Is veebedrywe in ’n stygende fase?
Die vooruitsigte vir die veebedrywe is heel belowend ná die afgelope moeilike jare. Dit is danksy dalende voerkoste en ’n kleiner aanbod in die mark, asook ’n ekonomie wat in die volgende jaar na verwagting stadig sal herstel.
Aanduidings is dat die groot droogte van die laaste drie jaar besig is om te wyk, met redelik wydverspreide reënbuie wat oor die meeste dele van die somerreëngebied voorgekom het. My vermoede is dat statistieke sal bevestig dat 2015 en verlede jaar die droogste reënvaljare is wat tot nog toe aangeteken is.
Afgesien van die oesverliese in die somersaaigebied en die feit dat Suid-Afrika op groot skaal graan moes invoer, moes die meerderheid veeboere in die sentrale en westelike dele van die land noodwendig hul veekuddes uitslag weens weidingtekorte en duur voer.
Die winterreëngebied het effe ondernormale reënval gehad in verlede jaar se winter, maar redelike tot goeie oeste is behaal. Die dilemma is dat hierdie gebied die winter ingaan met baie lae damvlakke. Die risiko is dat die inwoners van dié streek die nadraai van die droogte in die komende winter gaan ervaar.
’n Interessante feit is dat droogtes van die verlede saamgeval het met ekonomiese resessies. Dié keer was ook nie anders nie.
Die droogte het ook saamgeval met ’n fase van baie lae ekonomiese groei. Sommige sektore van die ekonomie is in ’n resessiefase.
Die afgelope twee tot drie jaar was baie moeilik. Met ’n korrupte regerende party en wanbestuur in die ekonomie was politieke stabiliteit ook nie ’n kenmerk van die tye nie.
HET DIE SIKLUS GEDRAAI?
Die aanduidings is dat die moeilike fase se einde in wording is. Die landbou is aan die herstel en die leidende aanwyser van ekonomiese groei dui daarop dat die ekonomie ook stadig aan ’t herstel is. Die rand is sedert begin verlede jaar in ’n sterker wordende fase en ekonome is oorwegend van mening dat die rand nog verder kan versterk.
Die aanduidings is ook dat Suid-Afrika by die boonste draaipunt van die huidige rentekoerssiklus is. Die verwagting is dat rentekoerse vanjaar sywaarts sal beweeg en moontlik laat in die jaar stadig sal begin daal.
Die reënval in die somersaaistreke het daartoe gelei dat redelik normale someroes-aanplantings gedoen is, weliswaar later as normaalweg, met die risiko van vroeë ryp. Die Safex-termynmark verdiskonteer reeds ’n groot mielie-oes, met mieliepryse wat skerp daal tot nader aan uitvoerprysvlakke. Natuurlik is dit nog vroeg in die seisoen, met heelwat risiko’s tot die oeste in die silo’s is.
toon die verloop van die Reserwebank se leidende ekonomiese aanwyser, asook die geelmielieprys op Safex.
Die aanwyser van die Reserwebank het die laaste paar maande redelik begin herstel. Dit gee ’n aanduiding van stewiger ekonomiese groei vir sowat nege maande vooruit, wat gunstig is vir die vraag na landbouprodukte en in dié geval veral vleis.
Ander graan- en oliesaadpryse wat in veevoer gebruik word, het ook stadig maar seker laer begin neig, met lae internasionale pryse en ’n sterker wordende rand. Die feit is dat voerpryse in ’n daalsiklus is, wat voerkoste vir veeboere laat daal en danksy weiding wat herstel.
VLEISPRYSE STYG
Die meeste van Suid-Afrika se veekuddes is aansienlik uitgedun weens die droogte, weidingtekorte en duur voer. Die nasionale bees- en skaapkudde is heelwat kleiner, maar dit geld ook Suid-Afrika se nasionale melkkudde, terwyl die braaihoenderbedryf ook in ’n erge krimpfase is.
Goedkoop invoer en duur voer het winsmarges weggeneem en laat die bedryf krimp. Dit gebeur terwyl die Regering laks is om realistiese invoerbeskermingsmaatreëls in te stel om die bedryf te beskerm teen ingevoerde produkte. Dié produkte word ingevoer teen aansienlik laer pryse as die lande van oorsprong se eie produksiekoste.
Die ontledings wat verlede jaar oor die
droogte se uitwerking gedoen is, het sterk beklemtoon dat veeboere in ’n kuddebou-fase sal gaan as die droogte gebreek is en weidings herstel. Rooivleispryse sal dan styg as gevolg van die heelwat kleiner aanbod. Natuurlik sal die hoër pryse ook die vraag demp om sodoende die mark in balans te hou.
Speenkalfpryse het reeds opwaarts gereageer met die beter beskikbaarheid van weiding, die nadraai van die vorige twee jaar se lae kalfpersentasies en die feit dat Suid-Afrika se nasionale teelkudde seker 20% tot 25% kleiner is. Die feit dat voerpryse ook daal, beteken voerkrale se voermarges het verbeter. Die voerkrale kan ook meeding om die kleiner aanbod van speenkalwers, wat die res van die jaar gaan voortduur.
toon die verloop van geelmieliepryse op die Safex-termynmark en die daling in pryse vir die maande tot Juniemaand se kontrakte, wat min of meer uitvoerprysvlakke is. Die grafiek toon ook die skerp styging van speenkalfpryse in verlede maand tot bokant R25/kg, met ’n verwagting dat dit nog deur die jaar effens kan styg. Dit is ook die prysvlakke waarby voerkrale gelykspeel. Dit is ’n styging van bykans 38% in speenkalfpryse van die laagtepunt van sowat R18/kg.
Die dilemma is natuurlik dat die meeste veeboere in die droë gebiede nie speenkalwers het om te verkoop nie. Dit is eintlik ’n lang pad na herstel wat voorlê. Die voordeel is darem dat die waarde van die bestaande nasionale kudde hoër is. Boere in die oostelike produksiegebied is in ’n goeie posisie.
Die verwagting is dat die prys van teeldiere sterk sal wees in die komende jaar as die seisoen normaal verloop met genoeg beskikbare weiding.
Lamsvleispryse het in Desember en/of
vroeg verlede maand die verwagte hoogtepunt van R65/kg-R70/kg behaal. Lamsvleis se prys het eintlik die laaste paar jaar stadig maar seker bly styg namate diefstal en probleemdiere skaapboerdery onder druk geplaas het.
toon hoe die pryse van skaapvleis en wol oor die laaste paar jaar gestyg het. Dit is tans op ’n hoogtepunt.
Sonder om in die debat te verval van vleisskape versus dubbeldoelskape, is die voordeel van ’n dubbeldoelskaap dat ’n mens wol op die oorsese mark verkoop en vleis op die plaaslike mark. Min bedrywe bied dié voordeel. Dit is dus die moeite werd om jou skape op te pas.
Die verwagting is dat die prys van lamsvleis sal terugsak tot sowat R60/kg tot R65/kg en op daardie vlak meestal sywaarts sal beweeg. Dit geld ook wol. Dit sal steeds goeie pryse wees, veral as ’n mens oplet dat ou skape teen bykans R50/kg verkoop word.
Selfs die vleisvarkbedryf het in Desember ’n redelike stewige sprong in pryse ervaar tot sowat R29/kg. Dit sal ook daarvandaan terugsak, nader aan die vlak van R25/kg tot R26/kg, maar die dalende voerkoste sal winsmarges vergroot.