RENTMEESTERS VAN AFRIKA
Dit was ’n vreemde plek om oor die rentmeesterskap van die Suid-Afrikaanse landbou te dink. Oor ’n Spur-ontbyt van spek en eiers in die Manda Hill-inkopiesentrum in een van die min lowerryke buurte van Zambië se hoofstad, Lusuka. ’n Oasis van bekendheid en ordelikheid in ’n stowwerige, woelige en bra gehawende Afrika-stad.
Moenie ’n fout maak nie, Zambië is ’n trotse land, polities taamlik stabiel, met enorme landboupotensiaal en vriendelike, hoflike mense. ’n Baken van vooruitgang in ’n rowwe deel van die wêreld. Zimbabwe in die suide bly ’n gemors, die Demokratiese Republiek van die Kongo in die noorde laat die Wilde Weste soos ’n kerksinodesitting lyk en Mosambiek in die ooste word deur ’n burgeroorlog in die gesig gestaar. Angola in die weste se wind is deur ’n lae oliepys uitgeslaan en Tanzanië in die noordooste probeer steeds herstel van die goedbedoelde, maar rampspoedige sosialistiese eksperiment wat Julius Nyerere in die laat 1960’s van stapel gestuur het. Nie een van dié lande is juis ’n ekonomiese voorbeeld wat Zambië kan of wil navolg nie.
Met die gesukkel van sy regstreekse bure is dit eerder die streeksmoondheid Suid-Afrika by wie Zambië, en die hele streek, groot baat vind. Al word daar van tyd tot tyd gebrom oor hoe Suid-Afrikaners hulself soos arrogante Amerikaners gedra, bly staan die feit dat Suid-Afrika se sakevernuf en toegang tot tegniese kundigheid die hele streek se ekonomie ’n hupstoot gee.
En die bewyse is daar vir almal om te sien. Lusaka is deurspek met Suid-Afrikaanse handelsmerke wat pronk op die mure van nuwe winkelsentrums — Shoprite, Spar, Food Lovers Market en Famous Brands se rits ondernemings, van Wimpy tot Steers.
En dan is daar die toenemende aantal Suid-Afrikaanse landboumaatskappye wat hulle in die oënskynlik chaotiese ekonomie van Zambië staan maak — van die groot spelers, soos Pannar, NWK en Afgri, tot die kleiner ouens, soos Taltec en Afrivet.
Doer suid, soos die Zambiërs na Suid-Afrika verwys, bly die plek om na te reis wanneer jy op soek is na ’n goedkoop gebruikte stroper of ’n ordentlike skool of universiteit vir jou kinders.
En dan tref dit jou: Wat in Suid-Afrika gebeur, het ’n regstreekse en wesenlike impak op nie net ’n land soos Zambië nie, maar op die hele streek. As dit goed gaan met ons in Suid-Afrika, gaan dit goed met hulle. As dit sleg gaan met hulle, soos in Zimbabwe, kan hulle darem nog altyd kos kry by ons. Maar sou dinge lelik skeef loop in Suid-Afrika, is hulle heel moontlik in groter moeilikheid as ons.
Dit is ’n werklikheid wat ’n besonderse verantwoordelikheid op Suid-Afrika plaas om sy sake met verantwoordelikheid te bestuur; die verantwoordelikheid van rentmeesterskap teenoor ons bure.
Kaap Agri se grootbaas, Sean Walsh, het die konsep van rentmeesterskap die ander dag op die Swartlandskou goed opgesom: “Om seker te maak ander is in ’n beter posisie omdat ons bestaan het as wat hulle sou gewees het as ons nié bestaan het nie.”
Boere se rentmeesterskap is teenoor hul nasate, die gemeenskappe waarin hulle boer en die omgewing. Almal behoort beter daaraan toe te wees wanneer hulle nie meer daar is nie. Maar vir Suid-Afrika beteken dit verantwoordelikheid nie net teenoor sy eie burgers nie, maar ook dié van ons buurlande. — CHRIS BURGESS Media24 Weeklikse Tydskrifte