Flemix bal vuis teen uitspraak
DIE
regsfirma Flemix en Vennote en verskeie mikroleners gaan nie die Hooggeregshof se beslissing in die onlangse “mylpaalsaak” oor loonbeslagleggingsbevele sommer so sluk nie, maar dit teenstaan en in die Wes-Kaapse Hooggeregshof appèl aanteken.
“Die praktiese uitwerking van die beslissing is ongelukkig, want dit sal die koste van skuldinvordering vir verbruikers aansienlik verhoog,” lui ’ n verklaring wat Flemix en Vennote uitgereik het.
Die saak is aanvanklik deur die Universiteit van Stellenbosch se Regshulpkliniek gebring. Die Regshulpkliniek het namens verskeie aansoekers opgetree.
Regter Siraj Desai het in die aansoekers se guns beslis dat 15 l oonbeslagleggi ngsbevele teen hulle (onder andere plaaswerkers) onwettig toegestaan en dus ongeldig is.
Die aansoeke om loonbeslagleggingsbevele mag net in die streek met die regte jurisdiksie aangehoor word. Desai se uitspraak dat dele van die Wet op Landdroshowe ( Wet 32 van 1944), wat klerke toelaat om loonbeslagleggingsbevele toe te staan, ongrondwetlik is, moet deur die Grondwethof bekragtig of verwerp word. Desai het ook beveel Flemix en die kredietverskaffers moet die aansoekers se koste betaal.
Luidens die verklaring is die Flemix- respondente “vol vertroue” dat ’n hoër hof die beslissing sal verwerp. Hulle gaan die aansoek in die Grondwethof teenstaan en ook hul eie aansoek bring.
“Wat jurisdiksie betref, gaan die Flemix- r espondente die Grondwethof vra om dit terselfdertyd te hanteer.
“Ons sal in elk geval ’ n aansoek om appèl by die Wes-Kaapse Hooggeregshof indien.”
Mnr. Kobus Burger, regshoof van die finansiële welstandsfirma Summit se afdeling vir loonbeslagleggingsoplossings, meen tot ’ n derde van die bestaande loonbeslagleggingsbevele is in die verkeerde hof uitgereik en dus nie geldig nie.
“’n Groter persentasie loonbeslagleggingsbevele sal nie deur ’ n landdros nagesien wees nie ( maar net deur ’ n klerk), maar daar gaan teen daardie deel van die uitspraak geappelleer word. Ons kan nie nou al sê dis onwettig nie.”
Boere moet hulself vergewis van die geldigheid van loonbeslagleggingsbevele wat teen hul werknemers toegestaan word, want hulle stel hulself bloot aan eise deur werknemers as dit later bewys word die bevel is nie wettig en geldig nie.
Burger raai boere aan om seker te maak ’n loonbeslagleggingsbevel is in die distrik met die regte jurisdiksie uitgereik.
“As dit nie in daardie betrokke hof uitgereik is nie, hoef die werkgewer nie die bevel na te kom nie,” sê hy.
“As jy vermoed dat die loonbeslagleggingsbevel onwettig of foutief is, kan jy die prokureur of invorderaar wie se besonderhede links onder op die bevel staan, kontak. Stel hulle in kennis jy gaan nie die loonbeslagleggingsbevel teen jou werknemer instel voor die dokument verander word, of dit verduidelik word nie.” – LUCILLE BOTHA
‘Tot ’n derde van die bestaande loonbeslagleggingsbevele is in die verkeerde hof uitgereik en dus nie geldig nie.’