HELE EKONOMIE KAN SLAE KRY OOR MIELIEPRYS
HOË mieliepryse kan die hele Suid-Afrikaanse ekonomie in die komende maande ’n verkoue gee, waarsku landbou-ekonome.
Baie meen die nasionale mielie- oes kan uiteindelik nóg kleiner wees as die jongste amptelike oesskatting van 9,755 miljoen ton. Dit is die skraalste oes sedert 2007 se 6,62 miljoen ton, en amper ’ n derde minder as verlede jaar se 14,25 miljoen ton.
Mnr. Dawie Maree, landbou- ekonoom van Eerste Nasionale Bank, sê die spreekwoord dat die wêreldekonomie ’n verkoue opdoen as Amerika nies, kan net so na ons plaaslike mieliemark en die Suid-Afrikaanse ekonomie oorgedra word. Nie net is mielies ’n stapelvoedsel nie, maar dit is steeds ons veevoerbedryf se heel belangrikste inset.
Voedselprys-inflasie is klaar aangewakker deur die afgelope droogte wat mieliepryse laat styg het. “Ons kan verwag dat dít in die nabye toekoms gaan voortduur,” sê Maree.
Hy sê veeboere, veral in die intensiewe bedrywe, soos melk, pluimvee en vark, voel reeds die druk van duurder voer. Dít kom saam met prysstygings vir verskeie ander produksiemiddele, soos vir brandstof, elektrisiteit en ingevoerde.
SLEGTE RENTEKOERSNUUS?
Maree meen selfs die regstreekse uitwerking van hoër voedselpryse en die bykomende stygings in produksiekoste kan die Reserwebank noop om rentekoerse gouer te verhoog as wat tot dusver verwag is, “nie iets waarvan die verbruiker gaan hou nie”.
Hy sê daar is kommer oor die grootte van die nasionale oes weens gemengde berigte uit die verskillende produksiestreke. Volgens die jongste skatting word gemiddeld 3,21 ton wit mielies/ha en 4,24 ton geel mielies/ha verwag, maar talle is bekommerd dat dit weens die droogte nóg minder kan wees.
Onlangse prysstygings dui daarop dat die markte ook ’n moontlik kleiner oes verwag as wat tot dusver geraam is, meen Maree. Sedert die naaste maandkontrak vir wit mielies middel Junie die R3 000/ton-vlak oorgesteek het, het pryse, ook vir geel mielies, bly styg.
Teen verlede week het die SA Graaninligtingdiens berig dat amper 60% van die verwagte oes in die eerste nege weke van die bemarkingsjaar gelewer was, teenoor 52% van die oes oor dieselfde tyd verlede jaar.
‘Onlangse prysstygings dui daarop dat die markte ook ’n moontlik kleiner oes verwag as wat tot dusver geraam is.’