‘Dit is mos verregaande om R4 000 – R5 000 vir ’n rooibok te betaal!’
Die Vryemarkstigting glo apartheid se ergste is steeds met ons omdat die meeste swart mense steeds geen eiendomsreg het nie.
Mnr. Dippies Dippenaar, van die Bosveld Jagtersvereniging, oor die vrees dat biltongjagters veilingpryse sal moet betaal.
DIT is onwaarskynlik dat wildspryse gaan styg tot op die punt waar dit nie meer vir biltongjagters bekostigbaar is om hierdie winter in die jagveld ’n draai te maak nie. Hoewel sommige diere steeds rekordpryse haal, dui pryse wat op Vleissentraal Bosveld se jongste drie veilings behaal is, op ’n terugkeer na normale pryse.
Sedert verlede jaar is kommer uitgespreek in jagkringe oor die hoë pryse wat diere, soos rooibok- en blesbokooie en blouwildebeeskoeie, op veilings laat in die 2014- veilingseisoen behaal het. Die vraag na daardie diere is aangevuur deur die sterk mark vir kleurvariante. Om goue wildebeeste, saalrug- en swartrooibokke en verskillende blesbokvariante te teel, is vroulike diere nodig, wat pryse so hoog as R7 000 vir ’n rooibokooi laat styg het. Hulle word dan met goue bulle, swart en wit ramme gekruis om F -kalfies en -lammers
1 voort te bring.
VEILINGPRYSE VIR JAG?
Op die Hangley-wildveiling op Alldays het rooibokooie vroeg in Maart teen net minder as R4 000 verhandel en jong ramme is vir R2 000 tot R6 000 stuk verkoop. Blesbokke het teen R2 600 verkoop. Blouwildebeeskoeie is teen gemiddeld R6 300 verkoop en bulle teen so min as R3 360.
Op die Herholdt-wildtelersveiling op Thabazimbi is jong blouwildebeesbulle teen R2 500 stuk verkoop en gemsbokbulle het R5 200 tot R7 800 gehaal. Jong rooibokramme is verkoop teen R2 081 tot R3 500. Waterbokke het R3 500 gehaal.
Mnr. Dippies Dippenaar, voorsitter van die Bosveldjagters vereniging, sê sy organisasie is soos die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging bekommerd oor die neiging van hoë pryse vir algemene wildsoorte op veilings.
“Die moontlikheid bestaan nou dat wildboere wild, soos r ooi bok ooie, waarvoor ons altyd R600 tot R800 per ooi in die jagveld betaal het, teen veilingpryse kan laat jag. Dit is mos verregaande om R4 000 tot R5 000 vir ’n rooibok te betaal.”
Hy weet egter van niemand wat hom tot dusver in sulke pryse vasgeloop nie. “Dis nog vroeg. Boere het nog nie vanjaar se jagtariewe en wildspryse begin adverteer nie, maar ons verwag om meer vir ons biltong te betaal.”
Mnr. Niel Swart van Vleissentraal sê egter aanduidings is dat hoë pryse nie eens deurgaans op veilings behaal gaan word nie. Hy sê daar is reeds private verkope onder boere waar rooibokooie t een minder as R2 000 stuk van eienaar verwissel. “Ons moet onthou dat die teel van kleurvariante maar ’ n baie klein deeltjie van die wildbedryf beslaan en dat die oplewing in aanvraag na spesifieke diere vir daardie mark nie vir ewig gaan aanhou nie.”
Hy voeg by dat daar nie naastenby genoeg telers van kleurvariante is om die totale wildaanbod elke seisoen op te koop nie.
Mnr. Leon Louw, direkteur van die Vryemarkstigting, oor munisipaliteite wat geen idee het wat die eienaarskapstatus van huisbewoners in townships is nie.
D
IE Vryemarkstigting glo daar sal eers ware grondhervorming wees as alle Suid-Afrikaners op dieselfde manier geregistreerde eiendomsregte kan geniet. Die beste plek om te begin, is in stede, waar die meeste mense woon.
Mnr. Leon Louw, uitvoerende direkteur, het by ’n inligtingsessie oor die stigting se Khaya Lam-grondprojek gesê die Regering lei die aandag weg van werklike grondhervorming met sy klem op landbougrond.
Hy sê die Regering se oordragteiken van 30% van grond aan swart mense is nog altyd onduidelik: “Niemand kon sê of dit 30% van die land se grondoppervlak of 30% van die titelaktes of 30% van die grond se geldwaarde is nie. Dit was totdat mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, nou gesê het dit is 30% van kommersiële plase in wit mense se besit.
“Maar as dít grondhervorming is, is dit bedrog. Al vat hulle 100% van kommersiële plase, beteken dit steeds dat net sowat 40 000 mense bevoordeel word. Eintlik is dit dubbele bedrog, want die grond word nie eens die begunstigdes se eiendom nie. Die staat bly die eienaar en die bewoner is net ’n huurder – presies soos dr. Hendrik Verwoerd dit ook wou gehad het.”
DOEN-DIT-SELF
Vandaar die stigting se eie loodsprojek op Parys om te sorg dat bewoners van huise titelaktes op hul eiendom kry. ’n Afgetrede boer, mnr. Perry Feldman, het die Ngwathe-munisipaliteit oortuig om aan die projek deel te neem.
Die Vrystaatse premier, mnr Ace Magashule, wil ook graag hê die Vrystaat moet die eerste provinsie wees waar almal, swart én wit, dieselfde eiendomsregte geniet. Die sakeman mnr. Christo Wiese het in sy persoonlike hoedanigheid 200 titelaktes geborg en is ook ’n ambassadeur vir die projek.
Mnr. Eustace Davie, direkteur van die stigting, sê dit is die stigting se belangrikste projek tot dusver, want miljoene mense het gebruiksreg van hul eiendom, maar besit dit nie – dus is dit dooie kapitaal. As die huise die munisipaliteit se eiendom is, moet die munisipaliteit dit boonop onderhou.
Van die 32 000 huise in Ngwathe is sowat 12 000 HOP-huise wat buite rekening gelaat word. Die sowat 20 000 huise wat gedurende apartheid gebou is, vorm deel van die projek. Tot duser is 320 titelaktes afgehandel en ’n verdere 280 is aan die kom. Die dokumente word op 15 April aan die eienaars oorhandig.
MILJOENE ONTSLUIT
Davie sê om ’n akte te registreer, kos R1 850 en sodra dit gedoen is, ontsluit dit sowat R100 000 (die waarde van die huis). “As iemand dus geld vir ’n akte skenk, skenk hy inderwaarheid 54 maal meer as die R1 850.”
Met die 320 huise waarvan die titelaktes afgehandel is, is R32 miljoen se kapitaal in Ngwathe ontsluit, wat ’n dramatiese ekonomiese verskil in ’n armoedige gebied kan maak.
Om 20 000 titelaktes af te handel, sal sowat R37 miljoen kos.
Louw sê die stigting weet seker die meeste van enige instansie van die eiendomsituasie in die land en dit is steeds baie min. “Van 5 miljoen tot 10 miljoen swart gesinne besit op die een of ander manier grond of eiendom. ’n Mens sou verwag dat Johannesburg se stadsraad sou kon sê hoe mense in Soweto grond bewoon – die aantal titelaktes, HOP-huise, huurhuise en informele wonings. Niemand het egter die vaagste benul nie.
“Miljoene rande word aan grondoudits bestee, maar dit beteken niks omdat die meeste mense nie eens besef die grond waarop hulle woon, is nie wettiglik hul eiendom nie.”
Louw sê baie mense glo informele dokumente, soos ’n kwitansie van ’n stamowerheid of ’n brief van ’n vorige bewoner, is bewys van eienaarskap, maar die grond is nie in die aktekantoor op hul name geregistreer nie. Verreweg die meeste swart mense kan die grond nie verkoop, verhuur of aan iemand anders oordra nie.
Daar is meer as 100 tipes verblyfregte en eienaarskap, sê Louw. “Dit is ’n baie groter gemors as wat ’n mens kan dink. Die meeste munisipaliteite het nie ’n benul van eienaarskap, waarde en regte oor grond in hul gebiede nie. Amptenare eien hulle die reg toe om te verhuur, te verdeel, mense uit te gooi en omkoopgeld te ontvang.”
Hy sê apartheidswette het verhoed dat swart mense grond kon besit, en al is dit herroep, is die grond steeds in die hande van die staat – nes in die apartheidsera.
WERKERS SOEK HUISE
Mnr. Perry Feldman sê hy’t bewus geraak van die situasie en daarom het hy betrokke geraak: “Om die projek op groot skaal aan die gang te kry, moet huisbewoners wat dit kan bekostig, self vir die administrasie betaal. ’n Opname het getoon 40% is bereid om te betaal.”
Feldman sê boere raak ook by die projek betrokke. “Die situasie op plase is besig om te verander en werkers wil nie meer noodwendig daar bly nie. In die verlede was daar plaasskole, plaaswinkels en busvervoer dorp toe. Dit bestaan nie meer nie. Baie werkers wil in die dorp woon, waar hulle ’n sosiale lewe het en naby winkels en skole is. Baie werkers huur of plak in die swart woonbuurt.”
Mnr. Lee Mhlongo, hoof van FNB se afdeling vir huisfinansiering, wat ook 300 titelaktes gefinansier het, sê dit is tot voordeel van ’n gesonde eiendomsmark. “Daar is ’n tekort aan goedkoop, bekostigbare huise omdat die eiendomme nie likied is en van hande kan verwissel nie.”