HANNES IS ‘MOEDSWILLIG, ONINGELIG’ OOR ‘WILDBORREL’
Hannes se brief, “‘Die wildborrel gáán bars’ ” ( LBW, 13 Maart), het betrekking.
Gegewe vele deurdagte rubrieke en wetenskaplik gefundeerde verduidelikings deur Wildbedryf SA (WRSA), in wie se geledere daar toevallig baie meer meestersgrade en hoër kwalifikasies is as wat Hannes al in sy lewe teëgekom het, gaan dit my verstand te bowe hoe iemand soos Hannes se ondeurdagte artikels/ briewe steeds soveel prominensie in die media geniet.
Aangesien wetenskaplik gefundeerde verduidelikings blykbaar geen byval vind nie, daag ek Hannes uit om die volgende te verduidelik: ■ Hoekom behaal vleisbeeskoeie pryse van gemiddeld R25 000 as die speenkalf, wat deur die eindverbruiker gebruik word, net sowat R4 800 werd is (op 220 kg)? ■ Hoekom behaal Arthur de Villiers se Bonsmarabulle honderde duisende rande op sy beesveilings as die uiteindelike speenkalf slegs R4 800 werd is? Miskien omdat die spesifieke bul ’ n bykomende 20- 40 kg na sy hele nageslag se speenkalwers oordra? ■ Hoekom word daar nie van ’n “wolborrel” gepraat nie as die ram Google, in dieselfde uitgawe as Hannes se brief, R200 000 en ander ramme tot R250 000 haal as die uiteindelike produk waarvoor die eindverbruiker betaal, slegs ’n paar duisend rand kos?
Gaan werk nou self uit: As ’n buffelbul met horings van 42 duim en langer vir tot R200 000 gejag word, hoeveel is sy moeder en vader, wat die eindproduk produseer, werd?
En hou ook in gedagte dat, anders as skape en beeste, slegs Afrika, en in hierdie stadium hoofsaaklik Suid-Afrika en Namibië, wild aan die hele wêreld kan voorsien.
Nee wat, Hannes, geen meestersgraad kan kompenseer vir blatante moedswilligheid en oningeligtheid nie.