Massahisterie!
Daar is min mense oor wat die tyd d onthou toe treksprinkane nog ’n werklike verskrikking was.
In ’ n kwessie van ure het reuseswerms sprinkane, vele kilometers lank en breed, eendag skielik die son kom verduister en ’ n geheel en al gestroopte aarde agterlaat. Sedert ons weet waar en hoe die swerms ontstaan en self kan vlieg en gif uitgooi, het dié natuurverskynsel feitlik verdwyn.
Alle grootskaalse migrasies is skouspelagtig. Of dit nou krappe, blouwildebeeste, swaeltjies of skoenlappers is, as ’ n klomp diere soos deur een wil gedrewe almal in ’n rigting begin beweeg, is daar iets aardigs daaraan. ’n Mens weet jy het nie meer met individue te doen wat redelikerwys in eie belang sal optree nie. Soos met straatbetogers en sokkerboewe, neem ’n soort massahisterie oor wat geen ag slaan op die individu se veiligheid of voordeel nie.
Swermmigrasies is gedrag wat feitlik altyd in ’ n spesie se gene vasgelê is en aan die gang gesit word deur ’n omgewingsimpuls. Trekvoëls se gedrag is absoluut en in f yn besonderhede in die eier vasgelê. Kuikens uit broeikaste wat geen kontak met ander van hul soort het nie, sal op presies dieselfde tyd en volgens dieselfde roete migreer as hul spesiegenote. Die geprogrammeerde datum van vertrek word deur dagliglengte bepaal – ’n presiese en onfeilbare kalender elke herfs en lente. Die oorlewingsvoordeel van die trekkery is by voëls natuurlik dié van twee somers per jaar.
Daar is baie diere wat sulke ekologiese of seisoensmigrasies onderneem. Dink maar aan die wildebeeste van Oos-Afrika, die sardientjies, die Monarch-skoenlappers in Amerika en vele ander. Die doodshoofpylstertmot onderneem selfs seisoensmigrasies bo-oor die Alpe.
ANDER GEDRAG TREE IN
Sprinkaanswerms volg op goeie reën in die opbougebied van daardie sprinkaansoort. Normaalweg is die sprinkane onskuldige, groen alleenlopers wat jy hier en daar kry. Maar hul eiers kan in droogtetye jare lank ophoop en dan skielik almal gelyk uitbroei as die toestande reg is. As die jong voetgangertjies ’n sekere aantal kere een van hul eie soort teëkom, tree daar skielik ander genetiese gedrag in. Hulle word nou geselskapsoekerige rooibaadjies en ontwikkel lang vlerke vir afstandvlieg. Uiteindelik vlieg hulle almal saam weg. Klein swerms sluit by mekaar aan tot ’n groot, rollende wolk ontstaan wat voor gaan sit en agter weer opstyg en alles wat groen is, in sy pad opvreet. Dié swerms is so groot dat geen roofdiere hulle kan baasraak nie.
Die rede vir dié massamigrasie en gepaardgaande genetiese gedrag is nie so duidelik nie. Miljoene jare gelede was dit dalk ’n manier om elke moontlike teelgebied te ontdek en te beset, maar duidelik het dit nou lankal gebeur en alle swerms sterf uiteindelik uit. Hulle kan nie voortplant terwyl hul vlieg nie en sterf uit of beland uiteindelik in ’n woestyn of oseaan waar hulle van die honger omkom. Wie steeds baat vind by hierdie migrasies is die minder “histeriese” individue wat agtergebly het en nou weer kan voortplant in ’n omgewing sonder mededinging. Dalk gaan die hele proses juis oor hulle.
Kommandoruspes is die larwes van ’n mot. Ook by dié spesie kry ons geweldige swerms. Die groot konsentrasies motte word egter selde gesien – dit is eers hul nageslag wat skielik soos ’n groot tapyt oor die grasveld ooprol (al windop) en al wat gras is tot op die wortels afvreet.
KOLONIE SLAAN ‘KAMP’ OP
Rooimiere ( army ants) in die tropiese dele van Afrika vorm ook indrukwekkende swerms wat soos ’n weermag deur die veld beweeg. In hierdie geval is dit egter altyd een groot kolonie wat op die trekpad is, elke paar weke nes maak of “kamp opslaan” en dan verder trek en roof.
Maar nie alle migrasies is ooglopend sinvol nie. Die witjieskoenlappers wat teen Kersfees in groot getalle in ’n noord-noordoostelike rigting vlieg, is ’n interessante voorbeeld van “fossiel-migrasiegedrag”. Belenois aurota se gasheerplant, die witgatboom ( Boscia albitrunca), groei volop in die Noord-Kaap. Die miljoene skoenlappers wat trek, kom nie verder as Zambië voordat hulle deur voëls uitgevang is nie. Maar ses maande later kom daar van Noordoos-Afrika (waar daar ook ’ n droë gebied met Boscia- bome is), groot swerms suid gevlieg. Hulle kom nie verder as Zimbabwe nie.
Dit is redelik duidelik wat hier aangaan. Lank gelede, toe Afrika droër was, was die Boscia’s van Oos- en Suid-Afrika nader aan mekaar en roofdiere op die roete minder. Toe het die witjies seisoensmigrasie gehad waarmee hulle ’n dubbele getal nageslag kon produseer. Nou werk dit nie meer nie, en wat vroeër ’n uitstekende oorlewingstrategie was, is nou ’n noodlottige genetiese albatros om die nek (net soos die mens se oordrewe genetiese voortplantingsdrang).
Prof. Erik Holm, emeritusprofessor, is ’n direkteur en stelselkonsultant by ZZ2-plase.