Kommentaar en Manie
UIT Zimbabwe kom daar ’n siening dat pres. Robert Mugabe se omstrede grondhervormingsprojek eerder daarop gemik was om die politieke invloed van kommersiële boere te neutraliseer as om grond te herverdeel.
Dit is algemene kennis dat Zanu-PF se steun in die landelike gebiede lê en nie in die stede nie.
Volgens mnr. Eddie Cross, ’n MDC-parlementslid, het Mugabe in 2000 geskrik vir die boere en hul plaaswerkers se invloed op die landelike stemgetalle (sowat 600 000). Kort daarna is daar met die plaasbesettings begin.
Of dit waar is of nie, is nie werklik ter sprake nie, want daar is in elk geval min twyfel dat Mugabe en sy party tot enige uiterste sal gaan om steun in die landelike gebiede te behou.
In Suid-Afrika verloor die ANC ook ál meer steun in die stedelike gebiede en dit lyk of hy alles moontlik doen om sy magsbasis in landelike gebiede uit te bou.
Dit is waarskynlik die oorsprong van pres. Jacob Zuma se oproep aan tradisionele leiers om saam te werk en een regspan aan te stel sodat hulle seker kan maak alle grond word opgeëis. Hy het gesê grond is ’n belangrike aspek van ekonomiese groei en dat die mense van Suid-Afrika niks is sonder grond nie.
As dit só is, hoekom word dan nie werk gemaak daarvan om erwe en huise – met ware eiendomsreg – aan miljoene swart stedelinge te gee wat in plakkerskampe krepeer nie?
Dit sal ’n baie meer wesenlike verskil aan grondhervorming en bemagtiging maak as om groter magte oor kommunale grond aan ’n paar tradisionele leiers te gee.
Aan die een kant is die staat besig om talle plase met belastinggeld op te koop waarvan hy die eiendomsreg self hou en aan die ander kant is daar die uitbreiding van tradisionele leiers se magte.
’n Mens kan net daaruit aflei dat die ANC sy politieke mag wil verstewig deur die grond te beheer waarop sy kiesers woon.