Boer in balans met die omgewing
Vir jare, glo ek, het die gewig van seleksie vir groei te swaar geweeg. Ons het tot elke prys ’n swaarder speenkalf nagejaag. Wat ons vergeet het, was dat ons van die vroulike verwante van hierdie pragtige swaar bulkalwers, waarvoor daar ’n boete by die voerkrale is, as vervangingsverse gehou het en noodwendig het ons koeie met verloop van jare groter geword.
Daar is sekerlik nie fout met dié benadering nie, want die produk wat ’n kommersiële beesboer verkoop, is ’ n speenkalf. Alles in beesboerdery het egter ’n prys en nou sit ons ná al die jare met ’n groter dier wat ’n hoër onderhoudsbehoefte het.
Ongelukkig is die natuurwet van ’ n groter onderhoudsbehoefte vir ’n groter bees ’n waarheid soos ’n koei.
As ons sê dat elke dier daagliks tusssen 2,5% en 3% van van sy/haar liggaamsgewig vir onderhoud nodig het, is dit vanselfsprekend dat ’ n groter dier meer as ’ n kleiner dier moet vreet.
Moet my egter nie verkeerd verstaan nie: Ek sê nie ons moet nou almal met muise boer nie. Wanneer jou diere so klein word dat die voerkrale hulle nie meer wil hê nie, is jy by ’n ander uiterste.
Sowat 80% van ons speelkalwers gaan nog deur voerkrale en daarom moet jy ’n produk lewer wat teen ’n premie deur die voerkrale aangekoop word. Baie mense meen dit gaan verander, maar ek is nie seker nie.
My ervaring is dat daar altyd iemand is wat met vernuf en f yn bestuur dinge kan laat werk.
Verder glo ek nie ons kan mense voed slegs op natuurlike weiding nie. Daarom speel voerkrale ’n uiters belangrike rol in die voedselketting van rooivleis. Daar is seker ’n nismark vir groen/veldvleis, maar ons sal nie die volk voed sonder die voerkrale nie.
NADELE VAN ’N TE GROOT KOEI
Wat is die nadele van ’n te groot koei? Ek meen daar is twee. Eerstens is haar onderhoudsbehoefte te groot en daarom verlang sy ’ n hoër voedingspeil as wat die meeste natuurlike weidings kan lewer. Dit het tot gevolg dat jy voedingsvlakke moet verhoog sodat sy ’n hoë reproduksievlak kan handhaaf. Hierdie aksie vreet die wins op.
Tweedens raak sy minder winsgewend. Dit is vir ’n koei van 480 kg tot 520 kg makliker om jaarliks 50% van haarself te produseer as wat dit is vir ’n koei van 650 kg om 50% van haarself te produseer.
Daar is ander tegnieke wat gebruik kan word om daardie swaar kalwers te produseer, soos ’n wetenskaplike kruisteelprogram en/of kruipvoeding.
Die probleem met die meeste kruisteelprogramme is dat dit eindig in verbastering, maar ’n goed beplande, wetenskaplike kruisteelprogram het beslis waarde.
Doeltreffende boere hou altyd die natuur in gedagte met hul boerderybesluite. Vir beesboere is dit belangrik om hul koeigrootte in pas te bring met die weidingspotensiaal van die plaas.
Wat in enige beesboerdery moet behoue bly, is vrugbare, “easy fleshing” koeie wat jaarliks ’n kalf speen met min of geen onderhoud. Natuurlik moet hulle verkieslik gepaar word met bulle wat oor jare uit dieselfde soort program geteel is.
Onthou, genetiese eienskappe word met bevrugting vasgelê. Dit help nie ons pamperlang die koeie jare lank, onderwerp die bulletjies aan ’n strawwe toets en glo dan hulle is geneties veldaangepas nie. Hulle moet uit ’n jare lange program kom wat daardie eienskappe vasgelê het.
Is die grootste koeie noodwendig die winsgewendste? My ervaring is nee. Dit is nie die diere met die hoogste produksie wat die winsgewendste is nie. Daar lê dalk ’n groter voordeel in ’n gereelde kalf as in die swaarste kalf. Vrugbaarheid is tien keer belangriker as groei.
Omdat ek wou seker maak ek diskrimineer nie onregverdig teen grootte nie, het ek met die data tot my beskikking gaan kyk watter koeigrootte in my boerderyomstandighede oor 15 jaar die winsgewendste was/is. Daardeur het ek bepaal (soos die TABEL wys) dat die diere wat effe groter as die mediumraamtipe is, die winsgewendste is. Ek hoef dus nie na te klein te beweeg nie.
Alle diere wat oor ’n tydperk van 17 jaar ten minste 4 kalwers gespeen het, is verdeel in vier groepe om te probeer bepaal watter gewig (raamgrootte) diere die winsgewendste is/was. Hierdie steekproef verteenwoordig ongeveer 2 000 kalwers. Kolom 1 ( tipe) is die gewigtipe: Klein ( K), medium ( M-), medium + ( M+) en groot ( G). Kolom 2 ( N) is die gemiddelde aantal kalwers van die koeie in die groep. Kolom 3 ( KM) is die werklike koeigewig by speen. Kolom 4 (Sp%) is gekorrigeerde 205 dae (KOR 205) gewig/werklike koeigewig by speen. Kolom 5 is die gekorrigerde speengewig soos bereken deur Beefpro. Kolom 6 is die biomassa bereken volgens die Meissner-inligting (werklike gewig tot die mag 0,75). Kolom 7 (TKP) is die gemiddelde tussenkalfperiode van die groep koeie. Kolom 8 ( Prod/ ha) is die gemiddelde kilogram gespeen per ha vir die groep. Kolom 9 (kg/TKP/dag) is die gewig gespeen per TKP dag. Kolom 10 (GPI) is die gemiddelde winsgewendheid van die groep gemeet teenoor die standaard soos vroeër verduidelik.
Die fout wat ons met verloop van jare gemaak het, was om dalk te veel te kyk na produksie per dier eerder as na wins per hektaar. Dit het gemaak dat die diere groter geword het omdat ons “onwetend” onregstreeks daarvoor geselekteer het. Gelukkig is daar telers wat dit raakgesien en aanpassings gemaak het sodat daar vandag teelmateriaal is waarmee jy dit kan regstel.
Die mens is so gemaak dat ons baie keer dinge te ver voer. Dis ook waar hiermee. Te groot diere kan nie doeltreffend voortplant op natuurlike weiding nie en daarom moet ons bestuursaanpassings maak wat nie altyd winsgewend is nie.
Ons kan onsself daaraan meet. As ons vir ’ n sekere eienskap selekteer en dit veroorsaak dat ’ n vroulike dier nie dragtig is nie, moet ons vrae vra. Moenie net altyd sê dis die omgewing nie. Genetika speel ook ’n baie groot rol.
Mnr. Johan Marais is ’n reptielkenner en skrywer van heelparty boeke oor slange en reptiele, onder meer Slange & slangbyt in Suider-Afrika en ’n Volledige gids tot die slange van Suider-Afrika. Hy is verbonde aan die African Snakebite Institute en bied wêreldwyd lesings aan.