VORDERING GEMAAK MET DIE GENOOM VAN BEESTE
Die eerste studies van gene-kaarte van die bees met die hulp van DNS-merkers (mikrosatelliete) is in die laat 90’s gedoen. Hierdie inligting is uiteindelik gebruik om die posisies van gene op chromosome vas te stel, wat onder meer verband hou met siektes en om toetse daarvoor te ontwikkel.
Dit sluit toetse in vir die resessiewe siekte Bovine Leukocyte Adhesion Deficiency ( BLAD, waaraan diere gewoonlik vrek voor hulle volwassenheid bereik), Deficiency of Uridine Monophosphate Synthase ( DUMPS) en Complex Vertebral Malformation ( CVM).
Etlike miljoene dollar is aan hierdie studies bestee.
Verskeie laboratoriums doen hierdie toetse, onder meer die LNR se dieregenetika-laboratorium op Irene.
Gene of variante van gene wat verband hou met vleissagtheid, melk-vetinhoud en sogenaamde dubbelbespiering by beeste is ook mettertyd geïdentifiseer.
Die bees se volledige genoom (al die nagenoeg 3 miljard boustene daarvan) is in 2004 gekarteer.
Verreweg die meeste navorsing is oor melkbeeste gedoen en genomiese teelwaardes, gegrond op die SNPprofiel (SNP staan vir enkel nukleotiede polimorfisme), word reeds jare lank in melkbees-seleksie gebruik, veral in Europa en Amerika.
By sekere vleisrasse, soos die Angus, word dié seleksie-instrument ook al gebruik.
Genetiese vordering danksy die gebruik van genomiese teelwaardes kan dramaties wees. Party skrywers van wetenskaplike artikels meen dit kan die tempo van genetiese vordering met minstens 50% versnel.
By die LNR word genomiese SNPdata in onder meer studies gebruik oor die genetiese samestelling van beeste, soos Nguni’s, en eienskappe, soos hul aanpasbaarheid in moeilike toestande en weerstandigheid teen bosluisgedraagde siektes.