Boodskap:
Bemoedig mekaar in moeilike tye sonder om jou eie rykdom na te jaag. Deur past. Hendrè Jacobs
Lewe só en vind ware geluk
Ons byna koorsagtige gejaag na groter hektare, blinker karre en meer grade het oor die afgelope twee dekades van ons ’n baie ongelyke, individualistiese samelewing gemaak waar elkeen net sy eie belang nagestreef het.
Ons mantra was:“Elkeen vir homself en God vir ons almal”. Ons het ons liggame, asof dit masjiene is, uitverhuur en té veel ure begin insit. Die oormaat materiële besittings het ons sosiale status verhoog en só het ’n wedloop begin. By die familiebegrafnis of in die lokasielane moes jy die beste grondboontjie in die pakkie wees. Toe halt die grendelstaat ons triomfantlike lopie en beklemtoon boonop, meer as ooit, die sondige gaping tussen dié wat het en dié nie-hetters.
God se wil was nog altyd harmonieuse naasbestaan tussen mens en dier, daarom moet ons nou die geleentheid sien om ’n nuwe middeweg van medemenslikheid te baan. Ons is op ’n plek waar ons moet erken ons voetspoor het net té swaar vir die planeet geword. Wat maak ons met onsself ná Covid-19? Die post-pandemiese gemeenskap gaan ’n drasties veranderde gedagte- en gedragstel van ons vereis – een van menslike minimalisme. Daar word oor die algemeen verwag dat die coronavirus die meeste lande se ekonomiese stelsels gaan verpletter en ’n nuwe normaal gaan inlei. ’n Normaal wat ons gaan dwing om met minder oor die weg te kom en wat ’n meer eweredige verspreiding van die wêreld se hulpbronne gaan vereis.
My gunstelinggebed in die Bybel is versteek in Spreuke 30. Hierin pleit Agur by onse God vir sy bestemde brood. Agur, seun van Jake, se kriptiese pleidooi aan God is niks anders as ’n gebed om vergenoegdheid nie. Agur vra die Here om hom nie skatryk te maak nie, omdat hy weet dat dit inherente gevare vir sy goddelikheid inhou. Agur meen dat ’n oormaat skatte hom oorversadig sal maak en dan gaan hy van God vergeet. Is dit nie maar waar van ons hedendaagse dekadente leefstyl waar ons ons vertroue in verganklike dinge begin stel het nie? Ons families is uitmekaargeskeur deur ons empty pride in dinge soos ons werk, rygoed of huise in voorstede.
Maar dis ook nie asof Agur nou die ander teenpool, uiterste armoede, verromantiseer en nastreef nie. Armoede is ’n vloek en ons in plattelandse lokasies weet dit maar alte goed. Nie rykdom of armoede is noodwendig ’n meer geestelike staat as die ander nie. Rykdom het sy aanhangers en dan kry jy ook ander gelowiges wat weer armoede as ’n outentieke goddelike leefstyl voorstaan.
Agur, vriende, bid vir nét genoeg. God ken elkeen van ons se staat van genoeg. Agur omskryf genoeg as sý bestemde brood, met ander woorde voorsiening wat vir sy plek of adres bedoel is. Bestemde brood is welvaart in ooreenstemming met jou sweet, insette, vrygewigheid, asook God se wil vir jou lewe. Genoeg verskil van persoon tot persoon. ’n Lui persoon se genoeg verskil van ’n flukse persoon se genoeg. Dus, wanneer Agur bid vir genoeg, dan vra hy dat God sy inspanning dienooreenkomstig sal seën.
Dis egter wanneer ’n mens gedurig meer wil hê en nooit tevrede is met wat jy het nie, waar sielsongelukkigheid intree. Onvergenoegheid maak dat ’n mens nie weet hoe geseënd jy eintlik is nie en dat jy al hoe meer wil hê om op andere neer te sien. Daar is ’n Engelse liedjie wat lui: “Count your blessings, name them one by one and then you will discover you are truly blessed”. Ek vra jou om vandag so ’n blessings-oudit te neem.
Maar netso is ’n traak-my-nie-agtige leefstyl en ’n verromantisering van armoede verkeerd. ’n Mens kan nie lui wees en dan mense beskinder wat beter af as jy is nie. Die Bybel is deurgaans negatief teen luiheid. Geliefdes, wat ons wel moet nastreef is om ten alle tye ons persoonlike beste te lewer en ’n gesonde balans tussen alles te handhaaf. Want jy sien, min mense vind geluk en genoeg in die lewe. Dis asof genoeg ’n ontwykende staat is wat ons weer moet najaag. Maar genoeg kom as ons tevrede word met wat ons het en nie ander se prentjiemooi lewe begeer nie. Daar waar ’n mens genoeg vind, daar vind ’n mens geluk en daar waar ’n mens geluk vind, daar vind ’n mens God. Want God, die nimmereindigende El-Shaddai, is meer as genoeg vir ons.
Daarwaar ’nmens genoegvind,daarvind ’nmensgelukendaar waar ’nmensgeluk vind,daar vind ’nmensGod.
*Hendrè Jacobs is pastoor van Adullam Assemblies te Postmasburg, Noord-Kaap.