INSPIRASIE Van werker tot baas van sy eie plaas
Van ’n plaaswerkerskind tot ’n boer in eie reg. Ettiene van Wyk van Marydale in die Noord-Kaap is pure inspirasie. Hy is vasbeslote om baanbrekerswerk te verrig op die stukkie grond wat aan hom toevertrou is.
Jy moet jou storie ken om in die Noord-Kaap te kan boer. Dit is ’ n ongenaakbare gedeelte van die land en daar is gereeld boere wat weens al die druk eerder die handdoek ingooi. Maar nie Ettiene van Wyk nie . . .
Nee, die feit dat hy as ’ n plaaswerkerskind gebore is, inspireer hom eerder tot nuwe hoogtes en vandag is sy plaas, Spes Bona, op Marydale, ’ n toonbeeld van wat met genoeg toewyding en gesonde verstand gedoen kán word.
“Ek’s op die plaas van ’ n bekende boer, oom Dries Wiese van Loxton in die Karoo, gebore,” vertel Ettiene (32). “My ma, Annaniet, het die bokke gemelk en my pa, Freddie, het na die skape en al wat ’ n dier is, gekyk. Só het ek kleintyd maar saam met my pa begin beweeg. Soggens het ons die skape kos gegee en saans het ons weer die skape ingebring.”
Ettiene is die eerste volwaardige boer in sy familie. Sy grootouers was ook veewagters en hulle het beslis nie eens so ver gekom om te droom dat hul kleinseun eendag die oorgang tot volwaardige boer sou maak nie. Trouens, vandag klop ander skaapboere – en veral nuwe boere – gereeld by hom om raad aan.
Vir geslagte lank het die Van Wyk-familie maar nog altyd op Dries se Kasteelplaas gewerk, sê Ettiene. “Dit is al wat ons geken het. Ons het (oor verskillende dekades heen) na die skape gekyk. As daar lammergoed aangekom het, het ons vir die lammers gesorg. Ons het bokke gemelk. My pa sê hy’t nie gedink ek sal as ’n boer opeindig nie, maar eerder bloot as ’ n goeie werker met verantwoordelikhede.”
Van sy vroegste kinderherinneringe – as ’ n laaitie van net drie – is boonop op die skoot van Dries, wat hom vroeg reeds oor Ettiene ontferm het. Dis die einste stoetboer wat later jare Ettiene se studies by die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal en daarna by die Grootfonteinlandboukollege moontlik gemaak het.
“Ek wou eintlik na ’ n ander skool toe gaan, want my kop het polisie toe gestaan. Ek’t gedink ek wil skelms vang, maar vandag vang ek roofdiere soos jakkalse. Die besluit (om toe eerder Oakdale toe te gaan) het my lewe verander. Oom Dries se vrou, Maylan, het my weggevat Riversdal toe en nadat ek die vorige aand met my mense gepraat het, het ek net een ding in my kop gehad: ek moet gaan klaarmaak en begin boer,” sê Ettiene.
Op kollege het Ettiene in veral die praktiese vakke uitgeblink. “Ek het vinnig agtergekom as jy meer in jou prakties insit, is dit net soveel makliker om te boer. ’n Boer sit nie bedags in ’n kantoor nie. Hy’s tussen sy diere in die veld.”
BEGIN BOER
Nadat hy by Grootfontein afgestudeer het, het Ettiene weer op Dries se plaas ingeval, maar dié keer as ’n voorman. Hy is egter binne 11 maande tot plaasbestuurder bevorder en het toe sewe jaar lank met merinoskape, boerbokke en beeste geboer oor ’n gebied van 17 000 hektaar. Om dit in perspektief te plaas: ’n hektaar is omtrent twee rugbyvelde langs mekaar.
Skielik moes Ettiene ook mense bestuur, onder wie sy eie ouers. “Dit was nogal nie vir my pa ’n goeie een gewees nie. Dit het plek-plek moeilik gegaan, want dit was nie vir my lekker om vir my pa te moet sê: ‘Nie regs nie. Gaan links’, nie. Op ’n kol het ek gehoop daar kom ’n