TOORN VAN ’N MOORDWEDUWEE
Seiljagte, Ferrari’s . . . Sy het alles gehad. Hoekom het Maurizio Gucci se eksvrou dan ’n pizzasjef gehuur om die modebaas van kant te maak?
OP ’N volmaakte lenteoggend, net ná halfnege, verlaat Maurizio Gucci, die aantreklike erfgenaam van die beroemde modehuis, sy woonstel in Milaan en stap die entjie na sy kantoor in Via Palestro, net ’n klipgooi van die stad se modedistrik. Met ’n hand vol tydskrifte in sy hand en uitgevat in ’n pak, das en – hoe dan nou anders? – Gucci-skoene, stap hy verby die openbare tuin en klim die paar trappies na sy kantoor.
Hy is onbewus daarvan dat ’n man hom agtervolg, en nog voor Maurizio die gebou kan binnestap vir nog ’n werkdag aan die stuur van die Gucci-moderyk, vuur die skieter drie skote in sy rug af. Terwyl hy op die rooi marmervloer neerval, tref die doodskoot hom in die kop.
Dié barbaarse daad in Maart 1995 het gou een van die berugste moorde in Italië se moderne geskiedenis geword. Tog het ondersoekbeamptes twee jaar lank gesukkel om die moordenaar – en die een wat hom gehuur het – vas te trek.
Het Maurizio een lening te veel aangegaan in ’n poging om sy ál luukser leefstyl te finansier? Of was daar ’n dodelike skeuring in die familie wat vir hul bitter binnegevegte bekend is? Op die ou end was dit toe nie een van die twee nie.
Verstommend genoeg was die mens wat ’n huurmoordenaar genader het om ’n einde aan Maurizio Gucci se lewe te maak die ma van sy twee kinders, Patrizia Reggiani. Sy was ontevrede met die R5 miljoen per jaar wat sy ná hul bitter egskeiding gekry het en vreesbevange oor die vooruitsig dat hy weer wou trou. Toe kry sy ’n huurmoordenaar om van haar eksman ontslae te raak.
Hierdie verhaal – ’n mengsel van glans, geld en wreedheid – word nou in ’n nuwe fliek, House of Gucci, uitgebeeld. Dié gedramatiseerde weergawe van die gebeure wat tot Maurizio se moord gelei het, sal later vanjaar op die silwerdoek verskyn.
Die rolprent, onder die regie van die veteraanfliekmaker Ridley Scott, spog met die Oscarwenner Lady Gaga, opgesmuk en behang met juweliersware, as Patrizia Reggiani en Adam Driver, wat al vir talle groot pryse benoem is, as Maurizio. Die Hollywood-ikone Al Pacino en Jeremy Irons vertolk ook rolle in dié belowende fliek.
Die verhaal bied alles wat ’n mens sou verwag van ’n ontwerpersnaam wat sinoniem is met luuksheid, om nie te praat van ’n narsissistiese booswig wat met haar bitsige sêgoed die Amerikaanse satirikus Dorothy Parker sou kon uitstof nie. Soos Patrizia gesê het toe ’n verslaggewer vra hoekom sy nie self die moord gepleeg het nie: “Ek sien nie so goed nie. Ek wou nie mis nie.”
PATRIZIA REGGIANI se verhoor in 1998 het die welgestelde inwoners van Milaan gelyktydig geboei en met afgryse vervul. Die Gucci-handelsnaam, wat danksy ikone soos Elizabeth Taylor, Grace Kelly en Sophia Loren gewild geword het, was skielik met ’n skandaal bevlek.
Toe Patrizia eindelik daaraan skuldig bevind is dat sy die opdrag gegee het vir die moord op haar man, het Gucciwinkels reg oor Italië silwer handboeie as simboliese gebaar in hul vensters gehang.
Tog het Patrizia en Maurizio se liefdesverhaal belowend begin. Hulle het mekaar ontmoet by ’n partytjie in Italië waar Maurizio glo ’n vriend gevra het: “Wie is daardie beeldskone meisie in rooi wat soos Elizabeth Taylor lyk?”
Patrizia het in ’n latere onderhoud beweer: “Hy het halsoorkop op my verlief geraak. Ek was opwindend en anders.”
Die twee het inderdaad hemelsbreed verskil. Maurizio was die kleinseun van Guccio Gucci – die stigter van die modehuis – terwyl Patrizia uit ’n nederiger agtergrond gekom het.
Haar ma, Silvana, was ’n kelnerin wat later getrou het met Ferdinando Reggiani, ’n ouer, ryk sakeman wat sy fortuin in die vragvervoerbedryf gemaak het.
Hy het Patrizia aangeneem en hul albei met geskenke en luukshede oorlaai. Patrizia het so vinnig aan dié leefstyl gewoond geraak dat sy Maurizio jare later, toe hy in ’n klein tjorretjie by haar huis opdaag, as ’n “verloorder” beskou het.
Nadat sy ingestem het om saam met hom uit te gaan, het sy daarop aangedring dat hy vir haar ’n Ferrari koop.
Dis nie verbasend dat die Gucci-familie aanvanklik skepties oor Maurizio se nuwe liefde was nie.
Hy was net vyf jaar oud toe sy ma dood is, en sy pa, Rodolfo, ’n voormalige akteur in Italië, het daarna die Gucci-onderneming saam met sy ouer broer, Aldo, bestuur. Hy was so bekommerd dat Patrizia met sy enigste seun vir sy geld wou trou dat hy Maurizio van die familiefortuin afgesny het en by die kardinaal van Milaan gepleit het om ’n stokkie voor hul troue te steek. Maar vergeefs.
DIÉ BARBAARSE DAAD IN MAART 1995 HET GOU EEN VAN DIE BERUGSTE MOORDE IN ITALIË SE MODERNE GESKIEDENIS GEWORD
Maurizio en Patrizia is in 1972 getroud toe albei 24 was en het twee dogters, Alessandra en Allegra, gehad.
Die egpaar was minstens ’n dekade gelukkig en selfs Rodolfo (wat in die fliek deur Jeremy Irons gespeel word met Al Pacino as sy broer, Aldo) se hart het ná die geboorte van sy kleinkinders versag. Hy het vir die gesin talle eiendomme gekoop, waaronder ’n weelderige dakwoonstel in Olympic Tower in New York.
Die stad het ’n gunstelinguithangplek geword waar die Gucci’s saam met Jackie Kennedy Onassis en die Kennedy-kinders gekuier het en in Manhattan in ’n motor rondgerits het, kompleet met hul nommerplaat, “Mauizia”.
Daar was uithangpartytjies en reise na privaat eilande op hul seiljag, The Creole. Hulle het ’n tuiste in Acapulco, Mexiko, gehad en ’n ski-chalet op St. Moritz, Switserland.
Maar toe begin dinge versuur. Rodolfo is in 1983 oorlede, en nadat Maurizio beheer oor die familieonderneming oorgeneem het, het dit gou begin kwyn.
Dit was volgens Patrizia omdat hy “opgehou het om na my te luister” en nie aan enige oorspronklike idees kon dink nie. Of soos sy dit kleurryker gestel het: “My man was soos ’n kussing – hy het die afdruk gedra van die laaste een wat op hom gesit het.”
Maurizio het dalk sy vrou se gebrek aan steun aangevoel. In Mei 1985 het hy ’n tas vir ’n sakereis na Florence gepak en nooit weer teruggekeer nie.
Maar al is haar twyfel oor haar man se sakevernuf eindelik reg bewys nadat hy in 1993 sy belang in Gucci vir R850 miljoen aan ’n beleggingsonderneming van Bahrein verkoop het, het die ergste nog voorgelê.
Al is hulle in 1991 geskei, het Patrizia van hom as “my man” bly praat. Nadat sy ’n skikking van sowat R12 miljoen, plus R3 miljoen per jaar as ’n “skamele bakkie lensies”, van die hand gewys het, het sy op die ou end onderhoud van R5 miljoen per jaar ontvang.
Maar wat Patrizia die meeste bekommer het, was dat Maurizio wou trou met
Paola Franchi, ’n jonger, glansryke blondine. Sy was bang dat haar mag, geld en status dan sou verdwyn. En as die egpaar kinders sou hê, het sy gevrees haar dogters se erfporsies sou ook daarmee heen wees. Iets moes gedoen word.
Daardie iets, het dit later geblyk, het gekom in die vorm van Benedetto Ceraulo, ’n eienaar van ’n pizzeria met ’n groot skuldlas. Hy wou die sessyferbedrag hê wat op Maurizio Gucci se kop was . . .
Al was hy nie juis ’n misdadige meesterbrein nie, het die owerhede gesukkel om die leidrade uit te pluis. Ondersoeke het aanvanklik op Maurizio se vele sakevyande gefokus.
Weens sy uitspattige leefstyl het hy baie skuld gemaak. Sy eie familie het hom daarvan beskuldig dat hy sy pa se handtekening vervals het om toegang tot die Gucci-fortuin te kry.
Maar sy minnares, Paola, het altyd vermoed dat Patrizia by sy moord betrokke was. Toe die polisie twee jaar ná die moord ’n anonieme wenk ontvang, het hulle dit eindelik opgevolg.
Dit blyk toe Patrizia het nie die spore van haar woede teenoor haar eksman behoorlik doodgevee nie. Die dag van sy moord het sy die woord “paradeisos” – Grieks vir paradys – in haar Cartier-dagboek geskryf.
In die dokumentêr Lady Gucci: The Story of Patrizia Reggiani, wat vroeër vanjaar uitgereik is, erken sy: “Ek was woedend vir Maurizio ná die egskeiding. Ek het rondgeloop en almal gevra, selfs die plaaslike kruidenier: ‘Is daar iemand wat die moed het om my man te vermoor?’ ”
Op die ou end was dit nie die kruidenier nie, maar die pizza-ou wat haar haar plan help uitvoer het.
IN DIE opspraakwekkende moordverhoor in 1998 het teenstrydige verhale ontvou. ’n Jare lange vriendin van Patrizia, Pina Auriemma – ’n “siener” wat in hoë sosiale kringe beweeg en self met skuld gesukkel het – het beweer sy het “in ’n oomblik van swakheid” toegegee aan haar vriendin se versoeke om ’n huurmoordenaar te kry.
Op haar beurt het Patrizia, wat vir die verhoor van kop tot tone in Gucci uitgevat was, beweer Pina het die huurmoordenaar sonder haar toestemming gehuur en haar ná die moord afgepers.
Tog kon Pina, die siener, nie voorsien wat sou volg nie: Sy is tot 25 jaar gevonnis vir haar aandeel daarin om die misdaad te reël.
Ceraulo, die huurmoordenaar, het lewenslange tronkstraf gekry, en die wegkombestuurder en ’n nagportier wat ook by die moord betrokke was, is onderskeidelik tot 29 en 26 jaar agter tralies gevonnis.
Patrizia is 29 jaar tronkstraf opgelê, hoewel haar advokate aangevoer het dat sy nie in staat was om so ’n misdaad te kon beplan nie omdat sy in 1992 vir ’n breingewas geopereer is.
Maar sy het hulle verkeerd bewys toe sy bieg: “Ek het nie gedink hulle sou my vang nie.”
In die San Vittore-gevangenis in Milaan het Patrizia die tyd verwyl deur “baie te slaap” en haar plante te versorg.
Sy is selfs toegelaat om haar troetelwesel, Bambi, daar te versorg, ’n spesiale vergunning wat haar advokate vir haar beding het. Maar dié klein roofdiertjie is dood toe ’n medegevangene per ongeluk op hom gaan sit het.
Patrizia het in 2011 ’n geleentheid van die hand gewys om verskuif te word na ’n oop gevangenis waar daar van gevangenes verwag word om te werk. “Ek het nog nooit in my lewe gewerk nie, en ek gaan beslis nie nou begin nie,” het sy gesê. Hoewel haar vonnis ná appèl tot 26 jaar verminder is, het sy op die ou end net 16 jaar daarvan uitgedien.
Ná haar vrylating in Oktober 2014 het sy steeds die aandag getrek deur met ’n papegaai op haar skouer in Milaan rond te loop.
’n Hof het beslis sy is steeds geregtig op die R5 miljoen per jaar uit haar vermoorde eksman se boedel en het R272 miljoen aan haar toegeken om haar tyd in die tronk te dek.
Sy het eenkeer opgemerk: “Ek sal eerder in ’n Rolls huil as om gelukkig te wees op ’n fiets.”
Sy is nou 72 en deel haar huis met haar papegaai en hond, en hoewel minnaars al gekom en gegaan het, beweer sy die man wat sy laat vermoor het, was haar “enigste ware liefde”.
Haar dogters, Alessandra (44) en Allegra (40), wat luidens berigte in Switserland woon, het weinig met haar te doen.
Nadat sy ’n lewe so kleurryk soos enige Gucci-skepping gelei het, sou ’n mens dink Patrizia sal in haar noppies wees dat die flambojante Lady Gaga haar in die fliek gaan uitbeeld.
Maar op ’n vraag in die Italiaanse televisieprogram Storie Italiane oor hoe sy oor die fliek voel, was haar antwoord onverwags terughoudend.
“Ek het twee dogters,” het sy ietwat ontsteld geantwoord. “Ek hou nie daarvan dat hulle hul pa se situasie moet herleef nie.”
Maar of hulle daarvan hou of nie, die uitsonderlike verhaal van hul ma se monsteragtige jaloesie gaan opnuut die tonge laat klap.
‘EK HET NOG NOOIT IN MY LEWE GEWERK NIE, EN EK GAAN BESLIS NIE NOU BEGIN NIE’