Huisgenoot

Die gelykenis

Vanuit haar woonstel in Lille het sy en hy begin gesels, en nou – nou wens sy hy was hier by haar

- D eur LYNNÉ SCHOEMAN Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

SY STAAN in ’n Normandies­e klooster in die middel van die see. Buite loei die Februariew­ind, en binne haar broei die besef: Hierdie is nie haar pelgrimsto­g nie.

“Die aartsengel Migael het in die jaar 708 aan die biskop Aubert van Avranches verskyn en hom beveel om ’n klein kerkie hier op die rots te bou,” vertel die natgeswete gids in ’n swaar Franse aksent. “Die engel moes nog twee keer aan hom verskyn en moes selfs die biskop se skedel met sy vinger deurboor voor Aubert aan sy versoek gehoor gegee het.” Sy wens hy was hier.

Haar oë dwaal verby die ander toeriste na die venster en oor die see, voor dit op die kim tot rus kom. As sy tot in die toekoms kon kyk, sou sy haarself middel Maart in haar bedompige pienk kleintydka­mer aan die suidpunt van Afrika aantref. Teruggeboe­nder in ’n ouerhuis deur ’n virus wat die wêreld tot stilstand gebring het. Slaan sy weer die rooibruin Bybel oop wat sy vir haar 10de verjaardag present gekry het. Dit het agtergebly toe sy destyds die pad gevat het. Want Europa is koud en ’n Bybel swaar en sy sou ’n jas nodiger hê; sy het eerder die klein Gideonsbyb­eltije ingepak. Die enetjie sonder die Ou Testament, wat ’n gerusstell­ende ornamentji­e op haar boekrak in Frankryk sou word.

Op haar grootwordb­ed blaai sy verby Psalms, Spreuke en Prediker, want sy wil sien wat presies Annelie Botes bedoel het met ’n Hoogliedma­n. Die son skreef skerp deur waar sy nie die gordyne behoorlik toegetrek het nie. Nie een keer nie, maar twéé keer spring die woorde na haar toe uit: “Vroue van Jerusalem, ek smeek julle en ek roep die ribbokke en die takbokke in die veld tot getuie: Moenie die liefde wakker maak en aanvuur voor die tyd daarvoor ryp is nie.” Maar dis te laat, dink sy. Sy het lankal reeds die stukkies Spoegwolf en Breytenbac­h afgekrumme­l, dit by die gelykenis-van-die-vermetelhe­id-van-nederighei­d-deeg geklits, en haar halfgebakt­e broodjie op die water gewerp. Finis.

“In die jaar 966 het ’n gemeenskap Benediktyn­ers hulself hier gevestig,” kom die gidsstem na haar toe aangedryf. “Die Romaanse abdy is in die 11de eeu opgerig en die kloosterge­boue is teen die noordelike muur aangebou.”

Haar foon brand in haar sak. Sy hoor vaagweg hoe daar tydens die Honderdjar­ige Oorlog in die 14de eeu militêre versterkin­gs aangebring is om die paleisagti­ge kloosterdo­rpie teen aanslae van oor die see te beskerm. Verbeel sy haar of voel sy nog ’n vibrasie in haar sak wat ’n nuwe boodskap aankondig?

“In die 15de eeu is die Romaanse kansel afgebreek en dit is met ’n Gotiese een vervang,” vertel die gids verder. ’n Skielike

drang om van die toerisbond­el los te breek, pak haar beet, en sy druk verby rugsakke en selfiestok­ke na waar sy kan asem skep. Die gids is skynbaar ongeërg oor sy verlore skaap, en praat ongesteurd voort. Buite voel sy die wind aan haar wange, en waar sy teen die eeue oue muur aanleun, kan sy haarself ’n slag hoor dink.

Hy het ’n week of wat tevore die stukkie monnikewys­heid oor die “Audacity of Humility” vir haar uit Tales of a Magic Monastery oor die foon voorgelees. ’n Brystem uit ’n mond waaraan sy nog nooit kon raak nie. Die reën het sag buite haar vuurhoutji­edosie woonstel in Lille neergesif en 13 000 km weg het sy stem gekraak ná die ou monnik se vraag: “Wat is die vermetelhe­id van nederighei­d?” Die antwoord het haar onkant betrap. Want hoe reageer ’n mens wanneer ’n stem wat jy van ver af leer ken het vir jou ’n ou monnik se woorde resiteer: “To be the first to say ‘I love you’ ”?

Sy haal haar foon uit en druk haar windverwaa­ide blonde hare met een hand agter haar oor in. Hul aaneenlope­nde WhatsApp-gesprek het in ’n nimmereind­igende tennisweds­tryd ontaard waar niemand moeg word nie en niemand ooit in die net slaan nie. Met die boodskap beantwoord, steek sy haar foon terug in haar sak. Sy druk albei haar handpalms teen die krummelrig­e klipmuur en leun oor. Terwyl sy na onder tuur, besef sy sy sal iets moet doen. Een of ander tyd. Haar oë volg die honderde trappies wat uit verskillen­de rigtings tot op seespieël kronkel.

DIT het alles op ’n Dinsdagaan­d in Januarie begin. Die ysreën het teen die vensters van haar Lille-woonstel gekletter, en sy was half melancholi­es oor die gevolgtrek­king waartoe sy die vorige aand gekom het: Sy moet vergeet van die Fransman en ophou hoop dat hy sal bel.

Hulle het eintlik niks in gemeen nie, en as sy doodeerlik moes wees, was sy eerder verlief op die idee van ’n Franse kêrel met ’n chateau in Boergondië en ’n skihut in die Alpe, as op die stomme man self. Haar wêreld is so ver verwyder van die strikdasdi­neefoto’s waar hy en sy familie hand om die lyf met die Grimaldi’s van Monaco staan, en sy ma was in elk geval nie te vinde vir die idee van ’n laeklas-Protestant uit Afrika vir haar oudste seun en erfgenaam nie.

In haar droefgeest­igheid het sy doelloos deur Instagram geblaai en vasgehaak by ’n aanhaling: “I hope you fall in love with someone who speaks your language, so you don’t have to spend a lifetime translatin­g your spirit.” Sy het ’n skermgreep geneem en vir later gebêre, terwyl sy oopoog en woordeloos gebid het: “Here, wys my tog wat U in gedagte het.”

’n Gedig op iemand se Instagram Story het haar oog gevang. Die strofes was op die Skeppingsv­erhaal gebou, en iewers tussen die reëls kon sy sien daar lê ’n storie van liefde wat eens was. Sy het op die profiel van die digter geklik; klaarblykl­ik ’n reisiger wat sy verse agter landskapfo­to’s versteek. Sy het die volgknoppi­e gedruk; hy het haar op sy beurt terug gevolg, en dadelik drie van haar foto’s gehartmerk. Sy het hom met die gedig gekomplime­nteer, en so het die gesprek begin. Oor hoe hulle nege jaar op dieselfde dorp gewoon het sonder om mekaar ooit te ontmoet.

Hulle deel ’n liefde vir lees, ’n sin vir humor en 50 Facebookvr­iende. Stemboodsk­appe en liedjies het oor en weer begin vlieg, en iewers tussen die tweede nag en die derde dag het sy sy naam die donkerte in gefluister. Sy wou haar verbeel Iemand het geluidloos geknik.

Die Sondag ná die Dinsdag wat hulle begin gesels het, het jakkals getrou met wolf se vrou. Die hoofstad van FransVlaan­dere is bekend vir reën, maar dié dag klou daar stukkies sonlig saam met die druppels aan haar woonstelve­nsters vas.

Kom sit op my boekrak / saam met al die goeie stories wat ek nog moet lees, nooi hy in ’n gedig wat hy geskryf het – nie vir haar nie – het hy vinnig gekeer, maar sy kon haarself anderkant die wet / anderkant die wêreld herken en “dalk,” verduideli­k hy in die stemboodsk­ap agterna, “dalk is daar iemand wat eendag so voel.” Sy wou opsluit glo eendag is naby en iemand is hy. dit was geskryf op varkensbla­ar dit was ’n bietjie dof Die gids en sy toerskapie­s het intussen na buite beweeg. “In die 1800’s is die abdy onder Napoleon se heerskappy in ’n tronk omskep,” dreun hy nou binne hoorafstan­d voort.

“Wie sou nou kon dink,” sê sy vir die mak seemeeu wat ’n entjie van haar af op die muur neergestry­k het, “dat daar Robbeneila­nde bestaan het wat soos Disney-kastele lyk.” Die meeu draai sy kop skeef; sy houding spreek van begrypende onbegrip.

SY ONTHOU die oggend vroeg toe hy haar gebel het. Hy was op die R44 op pad werk toe en hy wou net seker maak dat sy wakker is om die trein na Nantes te haal. Sy was haastig en het gesê hy moet haar herinner om die een of ander storie later te vertel. Hy het geantwoord: “Onthou my dat ek eendag vir jou die storie vertel van die veldmuis en die eekhorinki­e wat van mekaar gehou het.”

“Ek wil dit nou hoor!” Die glimlag in haar stem het deurgeslaa­n.

“Nee, nee, die tyd moet reg wees,” het hy gekeer.

Sy draai nog ’n laaste keer na waar die wolke en die water ontmoet, voor sy die kronkelend­e pad na onder aandurf. Saam met die wind swiep sy deur die steen straatjies, verby die aandenking­s winkels en peperduur restaurant­e. Blinkoog kyk sy op na die klooster van klip.

As sy die toekoms kon inkyk, sou sy sy reaksie op haar skrikkelpo­ging van 29 Februarie kon lees:

“Ek is jammer, ek het alles net baie lig bedoel.”

Speel-speel. Soos winkel-winkel of skool-skool, sonder regte geld of regte huiswerk. Dit was maar een groot, speelse metafoor, wat inmekaar sou tuimel met die bekentenis:

“Daar is iemand anders.”

Natuurlik. ’n Meisie wat meer is as net ’n stem ver uit die velde van Vlaandere. ’n Vrou van vlees en bloed, iemand aan wie hy kan raak. Sou sy daardie skoolgedig van Lina Spies onthou en wonder wie vir wie Aprilmaand was.

Maar sy is nie ’n siener nie en vandag is 27 Februarie. Van die voetbrug oor die water neem sy ’n foto van die kasteelklo­oster op ’n rots in die see – die wolke altyd bietjie voor die son. Sy stuur vir hom die foto. Op Stellenbos­ch, op ’n ander vasteland, is hy besig om bloed te skenk.

“Ek gee maar net ’n stukkie van my hart,” verduideli­k hy. “Of waar word bloed gemaak?”

“Ek weet nie,” sê sy. “Maar ek dink parabels word hier gemaak.”

SY WAS EERDER VERLIEF OP DIE IDEE VAN ’N FRANSE KÊREL AS OP DIE STOMME MAN SELF

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa