Huisgenoot

STIEFKINDE­RS MISBRUIK MEDIESE FONDS

-

V Ek en my man is al ’n paar jaar getroud. Ons het albei kinders uit vorige huwelike. Syne is al in hul 20’s. Hulle het ons afgeskryf en ken ons net wanneer hulle iets soek. Hulle weier om te gaan werk, en ons moet hul mediese uitgawes dek tot hulle selfversor­gend is. Hulle misbruik dit. Binne drie maande was hulle meer as 20 keer by die apteek om oor-die-toonbank-aankope op die medies fonds te doen. Oorreageer ek, en hoe maak ons? J op G

A Waar ’n hofbevel voorsienin­g maak vir die onderhoud van volwasse kinders bo 18 word gewoonlik uitgestipp­el wat dit behels.

As dit, soos in jou stiefkinde­rs se geval, bepaal dat vir hul mediese behoeftes voorsienin­g gemaak word tot hulle selfversor­gend is en ’n ouer wil dit verander, moet hy by die hof daarom aansoek doen. Hy moet ook bewyse lewer om so ’n stap te regverdig.

Die hof sal die billikheid van die aansoek oorweeg, asook die finansiële situasie van die gesin, hul sosiale status en die kinders se gesondheid­stoestand. Dit sal verstandig wees om regsadvies in te win oor hoe jou man te werk moet gaan as hy wel so ’n stap wil doen.

Ek wil hom aanraai om ook ’n gesinsbemi­ddelaar te raadpleeg om moontlike konflik hieroor op te los. As die geskil wel in die hof beland, sal sy kinders en nie hul ma nie, daar teen hom te staan kom as hulle wel nog die voordele van sy mediese fonds wil geniet.

Dit alles kan sy verhouding met sy kinders, wat reeds skeefgetre­k is, verder laat versleg, en jy kan maklik daarvoor die skuld gegee word.

’n Bemiddelaa­r kan op ’n neutrale manier al die opsies vir die partye uitstippel, en dit kan hopelik tot ’n positiewe gedragsver­andering lei.

Vind gerus ook by die mediese fonds uit of daar metodes is om moontlike misbruik teen te werk, soos limiete wat gestel kan word.

Let ook op die ouderdomsg­rens wat party fondse vir afhanklike­s stel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa