Huisgenoot

DIE HEMEL WEET

In ons reeks Hierdie Lewe, waarin gewone mense ’n stukkie van hul lewe deel, vertel ’n astroloog hoe sy die sterre lees

- Soos vertel aan JOANIE BERGH

MY PA het ’n plaas gehad by Le Rouxstasie, daar anderkant Meiringspo­ort.

was nie ’n boer nie, maar hy het dié stukkie grond gehad.

As kind het ek altyd my slaapsak en kussing gevat en alleen buite op die gras gaan lê. Daar was nie ’n lig naby nie, so ek kon al die sterre in die lug sien.

Die hele hemelruim was vol sterre; dit was ongeloofli­k.

My ma het my toe bietjie begin vertel van die sterre: bietjie van die Suiderkrui­s, Sewe Susters en die Drie Konings. Ek was gefassinee­rd met sterre.

Dan het my pa vir my ma gesê sy moet ophou. “Die kind gaan mal word,” het hy gesê.

Skool was vir my moeilik, want ek het altyd gesukkel om iewers in te pas. Ek het nie dieselfde gedink as die ander kinders nie; ek het die wêreld anders gesien as hulle. Ek wou altyd méér weet en béter verstaan. Onderwyser­s het baiekeer gefrustree­rd met my geraak, want ek het vrae gevra wat hulle nie kon antwoord nie. Daardie jare was dinge mos baie anders.

Ek het heeltyd hierdie gevoel gehad wat ek net nie kon afskud nie – dat daar soveel meer is aan die wêreld. Toe begin ek alles rondom my bevraagtek­en.

By die huis het my ma dit aangemoedi­g. Sy was ’n oopkop mens en het my geleer om nie alles bloot te aanvaar nie. Ek het grootgewor­d in ’n eg Afrikaanse huis en is aangeneem en voorgestel in die kerk. Maar ek dink my ma het gesê ek moet dit doen omdat dit daardie

tyd maar van jou verwag is.

My ma het ’n boek in die huis gehad – Linda Goodman se Sun Signs. Dit was die enigste boek wat daardie jare oor sterreteke­ns beskikbaar was, en ek het dit verslind. Dáár het my belangstel­ling in astrologie begin.

Ek was klein toe my ma en pa geskei en albei later weer getrou het. My pa trou toe met ’n vrou wat in Italië studeer het. Sy het belanggest­el in astrologie en het boeke oorsee gekoop wat sy hierheen gebring het. Ek was nege of 10 jaar oud toe ek die boeke ontdek en begin lees het.

Daardie tyd was daar nie internet of Google nie; ek sou énige boek oor sterre lees wat ek kon kry. Maar daardie jare was astrologie ’n taboe onderwerp.

Wanneer ek nuwe kinders by die skool ontmoet het, het ek hulle gewoonlik dadelik gevra wat hulle sterreteke­n is. Jou sterreteke­n beteken waar die son presies was toe jy gebore is.

En almal met dieselfde sterreteke­n het die basiese eienskappe in gemeen, byvoorbeel­d al die Skerpioene, wat tussen 23 Oktober en 22 November gebore is, wil suksesvol wees.

Ek het gedink astrologie is fascinatin­g, want dit kan jou help om te verstaan wie jy is, wat jou persoonlik­heid is, waarom jy op ’n sekere manier optree en hoe jy jou talente beter kan gebruik.

Op 18 wou ek meer weet van dié dinge, maar ons land het nie die resources vir dit gehad nie. Toe gaan studeer ek maar modeontwer­p.

Ek was nog altyd kreatief en het vir my poppe klere gemaak uit stukkies lap of tissue en Sellotape. Vir 10 jaar het ek by fabrieke gewerk as modeontwer­per vir kettingwin­kels. Maar dit het soos ’n worsmasjie­n gehardloop, en jy kon nie eintlik jou eie goed ontwerp nie.

In dié tyd het ek steeds alles oor astrologie gelees waarop ek my hande kon kry.

Toe word my seun gebore en ek besluit om ’n stay-at-home mom te word. Jy ken hierdie Tots-groepies vir kinders? Ek ontmoet toe ’n vrou daar wat my vertel van hierdie astrologie­kursus waarvoor sy ingeskryf het. Ek kon dit nie glo nie. Want hier, voor my, was die eerste mens wat ek ontmoet wat óók ’n belangstel­ling daarin het. Dit was ongeloofli­k.

Ek skryf toe ook in vir die kursus wat deur Suid-Afrika se mees gerespekte­erde astroloog aangebied word. Ek het vir my man gesê ek gaan dit nie ernstig opneem nie – ek wil net my kop bietjie aan die gang hou. If he only knew!

Ek het begin delf in die wêreld van astrologie, en ek het dit nog nooit laat gaan nie.

Ek sien kliënte from all walks of life. Ryk mense, arm mense, mense wat ontsettend suksesvol is, hoëprofiel­kliënte en heelwat mense in die buiteland.

En almal soek verskillen­de goed. Sommiges soek raad rondom ’n krisis, finansies of verhouding­s. Vir ander het ek gehelp om hul vermiste katte of honde op te spoor.

Daar was die een dag ’n vrou wat R5 000 se note verloor het. Ek het vir haar gesê dis onder haar kar se matjie. Eers kon sy dit nie vind nie, en weke later het sy dit toe daar gekry.

Die verskil is: ’n Psychic sal reguit ’n voorspelli­ng maak, byvoorbeel­d jy gaan einde volgende jaar skei, waar ’n astroloog vir jou gaan sê jy gaan volgende jaar ’n siklus binne wat moeilikhei­d in jou huwelik sal bring. As jy jou verhouding wil beredder, moet jy aan hierdie spesifieke dinge werk.

Ek werk vanaf ’n rekenaarpr­ogram. In die ou dae moes jy als met die hand doen. Ek tik jou geboorteda­tum in, die tyd wanneer jy gebore is en die plek. Dis al wat ek nodig het om jou charts te trek.

Elke chart sê vir my iets anders van jou, byvoorbeel­d ek kan lees toe jy vier jaar oud was, het jou pa heelwat gereis. ’n Ander chart wys vir my jou persoonlik­heid en wat jou talente is.

Ek kyk hoe ’n siklus in jou lewe ontvou, waar jy tans in jou lewe is en waarheen jy gaan. Dit is my werk om vir jou te wys hoe jy jou hoogste potensiaal kan bereik.

Ek lees nie my eie of my kinders se charts nie. Ek is emosioneel heeltemal te attached. Soms sal my kinders wel vra wat aangaan, dan sal ek vinnig na hul siklus kyk en sê hulle moenie worry nie; als gaan uitwerk.

En as ek weet daar kom ’n moeilike tyd in my eie siklus, weet ek wat om te doen en hoe om dit te hanteer. Dit help jou om beter keuses te maak. En ek is verskrikli­k lief daarvoor om mense so te help.

Aan die begin het my pa nie aan dit geglo nie. Hy het gedink dis ’n spul gemors. Maar hoe meer suksesvol ek geword het en hoe beter hy dit begin verstaan het, sien hy dit nou heeltemal anders. Nou spog hy orals oor sy dogter.

As mense my vir die eerste keer ontmoet en hoor ek is ’n astroloog, is daar drie reaksies. Dit is óf “regtig, dit is so interessan­t” óf hulle wil my nie glo nie en vra wat doen ek regtig óf hulle skrik so groot, hulle loop weg.

Wanneer mense sê hulle glo nie in sterre nie – dis oukei. Jy hoef nie te glo nie, maar dit gaan steeds gebeur. Ek glo God het vir ons die sterre gegee vir insig.

Als is reeds in die sterre geskryf. Soos wat dit daar bo is, so sal dit hier op aarde wees.

Ek kan nie die Lotto-nommers voorspel nie. Mense vra dit baie vir my. Die Lotto is een van die random-ste dinge in die wêreld. Maar ek kan vir iemand sê wanneer hulle in ’n siklus inbeweeg waar geluk aan sy kant sal wees.

Ek dink volgende jaar gaan ’n baie moeilike jaar vir die wêreld wees. Die siklus waarin ons op 12 Januarie gaan inbeweeg, het ons laas gehad in 2001 toe die Twin Towers opgeblaas is, en dis dieselfde siklus waar ons al oorloë gesien het soos met die Eerste en Tweede Wêreldoorl­oë en die Gulf War.

In Suid-Afrika gaan ons nog twee jaar erg finansieel swaarkry voor ons in ’n nuwe siklus inbeweeg en nuut begin.

Ek dink wel ek is anders, want ek sien die wêreld soos dit is en hoe dinge besig is om te gebeur. As ek nie in die sterre leef nie, maak ek soms nog klere. Maar dit is te veel moeite om die masjiene uit die kas te haal en alles weer weg te pak.

Ek het gister 51 geword. Ek is ’n Boogskutte­r. Dit is soos wat mense sê – jy voel wyser, meer confident en al daardie goeters. Maar die ouderdom begin aan jou knyp. Jy kan nie meer so lui wees soos jy was in jou 20’s en 30’s nie. Jy kry pyne wat jy nie weet waar dit vandaan kom nie, en dan gaan jy dokter toe, dan is daar niks fout nie.

Al sien ek die middeljari­ge vrou vir my terugkyk in die spieël, voel ek nog baie jonk van gees. Ek lê nog gereeld in die aande op die gras op ’n kombers en kussing en kyk vir die sterre. ■

‘Als is reeds in die sterre geskryf. Soos wat dit daar bo is, so sal dit hier op aarde wees’

 ?? Foto: MISHA JORDAAN ?? Nadat Dianne Garven in astrologie begin delf het, het dit haar aanhou boei, vertel sy. Sy kyk hoe siklusse in ’n mens se lewe ontvou en gee daarvolgen­s raad.
Foto: MISHA JORDAAN Nadat Dianne Garven in astrologie begin delf het, het dit haar aanhou boei, vertel sy. Sy kyk hoe siklusse in ’n mens se lewe ontvou en gee daarvolgen­s raad.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa