Huisgenoot

’N UITTREKSEL UIT DIE KIND UIT DIE WINGERD

-

Sy het daardie Sondag in die wingerd oorkant die Eersterivi­er gespeel. Sy kon die grootmense op die stoep hoor gesels en die ander kinders sien waar hulle op die grasperke probeer handstande doen.

Sy wat al dagdromend met die ry rooibruin wingerdsto­kke aangeloop het. Toe die vreemde kind wat na haar toe kom, al hoe nader. Die son blink op sy swartdonke­r hare, gloeiend op sy ligte vel. So asof hy uit ’n lugkasteel te voorskyn kom. Sy knip haar oë stadig. Hoor die grootmense steeds ver weg op die stoep praat en lag. “Carijn!” hoor sy haar ma roep. “Waar is jy?” “Ekke kom nou-nou!” skree sy oor haar skouer en loop vinniger.

Die seuntjie is nou amper by haar. Carijn dink hy’s bietjie kleiner as sy. Sy is al vier. Toe gaan staan sy en kyk weer om. Die grootmense het almal uit hul stoele opgestaan. Hul lippe beweeg.

“Wag!” skree haar pa.

Oupa sê ook iets in sy dik stem. Haar ma se stem en tannie Miemie s’n weerklink oor die werf. “Carijn!” roep almal naderhand. “Wag!” Maar sy gaan nie wag nie, want hy het nou vasgehaak. Seker omdat hy bang is vir die raserige stemme.

Carijn loop versigtig tot by hom. Die kind se groot blou oë staan stokstyf op haar. Sy asem kom rukkerig. Carijn steek haar hand uit en vat sy vingers fyntjies vas.

“Dag,” fluister sy, bang dat hy sal weghol.

Die seuntjie knik sy kop.

“Wat’s jou naam?” hou sy aan.

Hy lig sy bewende voorvinger en wys na die papier wat met ’n haakspeld aan sy baadjie vasgemaak is.

Toe hoor sy die doef-doef van voete oor die houtbruggi­e. Die grootmense is in ’n bondel op hulle en die seuntjie raak so stil soos ’n houtpop. Maar sy dringende oë hou haar gevange.

“Seun, waar kom jy vandaan?” dreun haar oupa Fritz se stem deur die Sondag se mooi.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa