Huisgenoot

Ma sien man met haar seun se longe

Lisa ontmoet die jong man in wie se liggaam haar eie seun se longe oorgeplant is

- Deur JOANIE BERGH Foto’s: CORRIE HANSEN

TUSSEN druiweprië­le en lentebloei­sels op Stellenbos­ch staan ’n jong donkerkopm­an buite ’n spogrestau­rant en wag. Hy is bleek en dra ’n blou mediese masker oor sy mond, maar sy oë glimlag. Hy wag op ’n vrou wat hy nog nooit tevore ontmoet het nie, maar danksy haar het hy die grootste geskenk denkbaar gekry – ’n nuwe kans op ’n gesonde, normale lewe.

As dit nie vir ’n dubbele longoorpla­nting 12 dae tevore was nie, sou Andries van der Merwe (25) nog net meer as ’n jaar oorgehad het om te leef. Ná ’n jare lange stryd teen sistiese fibrose het sy longkapasi­teit tot net 17% gedaal.

En toe, op Vrydagaand 23 Augustus, kom die oproep van sy dokter met die nuus waarop hy maande lank gewag en gehoop het: Hulle het ’n paar gesonde longe vir hom gekry.

Andries het dadelik sy ouers, Albertus en Anna-Mart van die dorpie Breërivier tussen Worcester en Ceres, gebel om hulle daarvan te vertel.

Maar terwyl hulle saam met hom verlig en verheug was, was ’n ander ma elders in die Wes-Kaap in rou gedompel nadat haar enigste kind daardie dag breindood verklaar is.

Lisa Smorenburg van Riviersond­erend se donkerkops­eun, Storm (18), het die vorige dag ernstige kopbeserin­gs in ’n ongeluk opgedoen.

Dié lewenslust­ige matrieklee­rder aan die Hoër Landbousko­ol Oakdale op Riversdal het die oggend agteroor van sy

skaatsplan­k geval terwyl hy op pad van die skool se koshuis na die hoofgebou aan sy matriekvri­ende se bakkie vasgehou het.

In haar hartseer het Lisa (53), ’n enkelouer, onthou sy en Storm het eenkeer oor orgaansken­king gesels.

Toe het hy gesê dit is iets wat hy graag sou wou doen . . .

En deur dié sameloop van omstandigh­ede raak Andries en Lisa, twee algehele vreemdelin­ge, se lewens nou verweef.

Want in Andries se borskas dra hy nou die longe van Lisa se geliefde seun. Soos die dankbare Andries dit in ’n Facebook-inskrywing stel: “’n Storm het my lewe getref met nuwe longe.”

Toe Lisa minute later voor die restaurant uit haar motor klim, omhels die twee mekaar soos ou bekendes.

Sy druk hom styf teen haar vas en haar blou oë skiet vol trane.

In hierdie jong man wat sy nou styf vashou, leef iets van haar eie seun voort – die longe wat hom 18 jaar lank laat asemhaal het.

Dit was nie vir haar ’n moeilike besluit om Storm se organe te skenk nie, vertel sy later – benewens sy longe ook sy hart, korneas, niere, lewer en selfs sy vel vir die slagoffers van brandwonde.

“Toe hy dood is, was dit net sy lyf wat daar gelê het. Sy siel was reeds in die hemel,” sê Lisa en druk-druk met ’n sneesdoeki­e onder haar oë.

“En nou het hy ná sy dood ander mense gehelp. Ek weet dit is wat hy sou wou hê.”

OM DIE restaurant­tafel vertel Lisa vir Andries meer oor die ruimhartig­e jong man wat sy lewe gered het – al het hulle mekaar nooit geken nie. Storm was avontuurlu­stig, ’n kranige rugbyspele­r, lewensredd­er, branderpla­nkryer en tweekampat­leet.

Ma en seun was baie geheg aan mekaar en het vele avonture saam aangepak – van kabelgly tot motorfiets ry.

Vir sy 18de verjaardag op 5 Junie wou hy graag ’n skaatsplan­k hê. Storm was in die wolke toe Lisa op sy verjaardag vir hom dié geskenk bring.

“Jy kan jou kind nie in watte toedraai nie,” sê sy, en haar gesig vertrek van emosies wat dreig om haar te oorweldig.

Andries neem haar hand oor die tafel en druk dit vertrooste­nd.

Die noodlottig­e Donderdag was in die eksamentyd. Storm, geklee in sy blou-enwit skoolunifo­rm, was op pad skoolsaal toe om Afrikaans te skryf. Hy het op sy skaatsplan­k gespring en aan sy vriende se bakkie vasgehou, maar die draaie in die pad het vermoedeli­k vir hom te erg geraak. Toe laat los hy, val agteroor, en sy kop tref die pad. Hy het onmiddelli­k sy bewussyn verloor – en dit nooit herwin nie.

Lisa was op Stellenbos­ch vir haar werk as navorser by die departemen­t van landbou toe sy die oproep van die skoolhoof kry. Storm is eers na die Riversdalh­ospitaal geneem, maar daarna na die Life Bay View-hospitaal op Mosselbaai oorgeplaas.

“Ek het eers die erns van sy beserings besef toe ek hom in die hospitaalb­ed sien lê, gekoppel aan al die masjiene.

“Die volgende dag het dokters gesê hy is breindood. Ek het heeltyd net by sy bed gesit, hom vasgehou en gesê: ‘Ek is lief vir jou; ek is so lief vir jou. Ek is nie kwaad oor wat gebeur het nie.’

“Ek het geglo hy kon my hoor.”

In daardie laaste ure van afskeid het sy hul gesprek oor orgaansken­kings onthou. “Van kleins af het Storm altyd mense gehelp wat nie hulself kon help nie. Ek moes sy organe afteken.

“Hoekom sal ’n mens iemand in die grond wil begrawe of verbrand as jy ander mense se lewens kan verander?” vra sy en kyk na die jong man oorkant haar wat steeds haar hand in syne hou.

DIE dag van Storm se ongeluk het Andries een van vele doktersafs­prake gehad. Hy was net drie jaar oud toe sistiese fibrose by hom gediagnose­er is – ’n siekte wat onder meer die longe aantas. Destyds het dokters gedink hy sal nie tot sy sewende verjaardag leef nie. Maar hy het sy skoolloopb­aan moedig aangedurf en flink rugby, krieket, hokkie, tennis en skaak gespeel.

“Ek moes so aktief moontlik bly om my longe te oefen,” verduideli­k hy.

Ná skool wou Andries ’n sjef word. Hy het aan die Institute of Culinary Arts op Stellenbos­ch studeer en daarna by die Tokara-restaurant begin werk. Deur die

jare het hy ál meer gesukkel om asem te haal weens oormatige slym wat in die longe ophoop.

“Ek het gevoel my liggaam gaan agteruit. Ek het geen energie gehad nie en het erg begin gewig verloor.”

Agt maande gelede moes hy noodgedwon­ge uit sy werk bedank en op ’n wonderwerk wag.

Met sy doktersafs­praak daardie Donderdag is sy bloedsuurs­tofvlak getoets. “Dit was heeltemal te laag en die dokter het gesê ek moet van daardie Maandag af permanent met ’n suurstofte­nk loop,” vertel Andries.

“Ek was toe reeds sewe maande op die waglys vir ’n longoorpla­nting. Ek het net ’n jaar en ’n bietjie oorgehad om te leef.”

Daar in die spreekkame­r was Andries en sy ouers baie mismoedig. Min het hulle toe geweet ’n langverwag­te oproep net die volgende aand sou nuwe hoop bring.

Op Saterdag 24 Augustus het Lisa haar seun om tienuur die oggend ’n laaste keer in sy hospitaalb­ed op Mosselbaai gegroet voor hy ingestoot is teater toe. Buite het ’n privaat straler van ’n weldoener gewag om sy longe Kaapstad toe te neem.

Daar in die Groote Schuur-hospitaal is Andries twee uur later in die teater ingestoot vir die sewe uur lange dubbele longoorpla­nting.

“Ek voel amazing. Ek het nog nooit so goed gevoel nie,” sê hy nou van agter sy masker. Sedert die operasie moet hy dit dra wanneer hy tussen mense is om te keer dat hy infeksie kry.

“As daar geen komplikasi­es is nie, kan ek nou maklik nog 20 jaar leef,” voeg hy hoopvol by.

Hy is net die vorige dag uit die hospitaal ontslaan. Hy fokus nou daarop om van dag tot dag te leef terwyl hy gemonitor word vir enige teken dat sy liggaam sy skenkerlon­ge verwerp. Toekomspla­nne noudat hy ’n tweede kans op die lewe gekry het, sal tot later moet wag.

“Dit voel ongeloofli­k goed om Andries se storie te hoor en te weet ons kon hom help met ’n nuwe lewe. Dit help met die rouproses,” sê Lisa en sluk weer om die trane te keer.

Dan kyk sy na die jong man oorkant haar op wie ’n nuwe lewe wag – ’n oorwinning wat uit ’n tragedie gebore is.

“Ek hoop ons kan nog lank kontak behou sodat ek kan weet hoe dit met jou gaan,” sê Lisa.

En Andries knik sy kop beslis. Want in hom is nuwe lewe. ■

 ??  ?? HOOFFOTO: Lisa Smorenburg en Andries van der Merwe. Lisa se seun, Storm (HEEL LINKS), is in ’n ongeluk oorlede en sy longe is in Andries oorgeplant.
HOOFFOTO: Lisa Smorenburg en Andries van der Merwe. Lisa se seun, Storm (HEEL LINKS), is in ’n ongeluk oorlede en sy longe is in Andries oorgeplant.
 ??  ?? ONDER: Lisa en Andries ontmoet mekaar. HEEL ONDER: Andries in die hospitaal.
ONDER: Lisa en Andries ontmoet mekaar. HEEL ONDER: Andries in die hospitaal.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa