BROOD-EN-HOENDERSLAAI
Dié gereg, geskoei op die Mediterreense fattoesjbroodslaai, is heerlik as ’n ligte middagete. Jy kan selfs naanbrode gebruik. GENOEG VIR 4 MENSE BEREIDING: 15 MIN. GAARMAAK: 20 MIN. 1 ui, in ringe gesny 30 ml (2 e) appelof rys-asyn 5 ml (1 t) suiker 4 dagoudpita- of -naanbrode, in stukke gebreek olyfolie 2 knoffelhuisies, geskil sout 250 ml (1 k) natuurlike volroomjogurt 2,5 ml (½ t) fyn komyn 30 ml (2 e) elk pietersielie, ment en koljanderblare, gekap 4 stukke gaar hoenderdye of ½ braaispithoender (of enige oorskiethoender) 1 x 400 g-blik kekerertjies, gedreineer paprika na smaak 60 ml (¼ k) geroosterde amandels AFRONDING kruietakkies en suurlemoenskyfies Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas die ui in ’n bakkie, giet die asyn en suiker oor en laat eenkant staan terwyl jy die res van die slaai berei. Rangskik die brode op ’n bakplaat en bak sowat 8 min. of tot bros en effens verbruin. Verwyder uit die oond, sprinkel ’n bietjie olyfolie oor en laat afkoel. Druk die knoffel met ’n stamper in ’n vysel saam met die sout tot ’n pasta fyn. Meng die knoffel met die jogurt, komyn en kruie. 5 Verwyder die hoender van die been en breek dit in stukkies. Pak dit op ’n bakplaat uit. 6 Plaas die kekerertjies op die bakplaat en sprinkel die paprika en ’n bietjie olyfolie oor. Bak tot die hoender se vel en die kekerertjies lekker bros is, sowat 10-15 min. Roer halfpad om. Laat afkoel en giet die jogurtmengsel oor. Meng deur. 7 Rangskik ’n laag broodstukke op ’n opdienbord. Skep die hoendermengsel bo-oor en rangskik die res van die brood bo-op. 8 Dreineer die ui en sprinkel dit saam met die neute bo-oor die slaai.
9 Afronding Rond af met die kruietakkies en suurlemoenskyfies.