Huisgenoot

“Kroonprins” help joernalis mooi lyk

Hy’s die ghoeroe agter skoonhede se sukses. ’n HG-joernalis het die sterstilis gevra om met háár klere te help

- Deur MARISA FOCKEMA Foto’s: MISHA JORDAAN

DIT voel of ek bloedrooi bloos voor hy deur my klerekas begin kyk. Hier is immers geen ontwerpers­klere, Jimmy Choo-skoene of ’n Louis Vuitton-handsak nie . . . Terwyl die stilis Werner Wessels ingedagte na my klere kyk, wonder ek benoud of dit die mas sal opkom. Hy is die stylghoero­e wat skoonhede soos ons Mej. Heelal, Demi-Leigh Nel-Peters, en voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss gehelp het om hul beste voetjie in dié kompetisie­s voor te sit – wat sal hy van my kleresmaak dink? En watter raad het hy vir ’n gewone vrou soos ek?

Maar gou besef ek vir Werner (29) maak dit nie saak of iemand ’ n stylkoning­in of doodgewoon is nie.

“Ek het begin agterkom mense maak soms opmerkings oor hoe hulle nie ’ n Rolene of Demi-Leigh is nie, of hoe ek net meisies mooimaak wat ’n grootte 8 dra,” vertel hy terwyl hy my hemde, broeke en skoene bekyk.

Lank voor hy bekend geword het as die “geheime wapen” wat talle skoonhede gehelp het om die Mej. Suid-Afrika-titel te wen, het Werner gewone vroue oor die land heen, van Rustenburg tot Worcester, se klerekaste help opkikker.

“Ek wil hê my werk moet ’n ode aan alle vroue wees,” sê hy. “Ek wil elke vrou op haar beste laat voel, maak nie saak wie of wat sy is nie.”

En dis dan ook wat hy wil doen met sy nuwe mooimaak-werklikhei­dsreeks, Die Kroonprins, wat onlangs op VIA, kanaal 147 op DStv, begin het. Dié program bied ’n blik op dit wat hy as stilis en raadgewer in die openbare oog vir skoonheids­koninginne doen, maar die fokus is sy hulp en wenke aan vroue van alle agtergrond­e, groottes en ouderdomme.

“Ek weet hoe ’n vrou se selfvertro­ue toeneem wanneer sy goed lyk. Ek wil hê ’n vrou moet by ’n vergaderin­g met 15 mans instap en kan sê: ‘Ek weet julle kyk na my en dink ek lyk goed, maar nou gaan julle luister na dit wat ek wil sê.’

“Elke vrou moet so voel – of dit nou ’n ma is wat haar kinders by die skool oplaai, ’n onderwyser­es wat voor ’n klas staan, ’n sakevrou in ’n konferensi­esaal of ’n Mej. Suid-Afrika op ’n verhoog.”

EK VOEL soos een van die vroue in sy TV-program terwyl Werner gereed staan om my oor my uitrusting­s te adviseer. “Orraait, kom ons praat,” val hy weg en vra dat ek uit my kas ’n tipiese uitrusting vir ’n werkdag moet kies.

Ek aarsel ’n oomblik en haal dan ’n smaraggroe­n bloes, ’n swart broek en swart rondepunts­koene uit.

“Ek is gek oor jou keuses, maar dié items werk nie noodwendig saam nie,” merk hy op. Hy sif deur my kas en vervang dan die swart broek en skoene met ’n roomkleuri­ge broek en skoene met ’n skerp punt. Dadelik sien ek hoe die groen en swart kontraster­end was. “Dis ’n algemene stylfout, want dit is die maklikste om swart by ’n helder kleur te voeg,” verduideli­k hy. “Omdat die swart broek

basies is, val die fokus net op die groen bloes. Iemand sal dan sê: ‘Dis ’n mooi hemp’ pleks van ‘Jy lyk mooi’ of ‘Jy het ’n mooi uitrusting aan’. ”

Ek het ’n plat skoen gekies, maar Werner verkies ’n hak. “Daar is net ’n elegansie aan hakskoene wat ’n vrou besonder statig en vroulik laat lyk, selfs al is dit ’n lae platformha­k. As jy plat skoene werk toe dra, kies ’n skoen met ’n skerp punt; ’n ronde punt skep ’n informeler gevoel,” deel hy nog ’n waardevoll­e wenk.

Daarna vra hy my om ’n uitrusting te kies wat ek sal dra vir ’n aand uit saam met vriendinne. Ek haal ’n mosterdgee­l rokkie uit en Werner juig oor my helder keuse. “Vroue is dikwels bang vir kleur,” sê hy en verduideli­k dat jy ’n kleurryke uitrusting in toom kan hou deur jou bykomstigh­ede neutraal te hou. Dus, vir saam met my geel rok kies hy ’n handsak en belt van ’n soortgelyk­e bruin kleur.

Voor Werner my kas ingevaar het, het ek probeer veilig bly deur ’n basiese swart broekpak vir sy besoek aan te trek.

“Jy kan enige tyd swart dra, maar moenie dit vervelig maak nie,” gee hy raad. Hy hou van my keuse, maar stel voor dat die swart treffender sal wees as ek ’n belt om my middel bind. Ek sien dadelik die effek toe hy ’n blink belt byvoeg. “Die belt definieer jou middel en so word die aandag na die kleinste deel van jou liggaam getrek,” sê hy.

Hy wys ook hoe ek my vroeëre keuse van ’n swart broek beter kan aanwend deur ’n bloes met swart en wit strepe daarby te kies. Vir definisie draai hy ’n bruin belt om my middel, en die bykomstigh­eid se kleur word met ’n bruin handsak en skoene herhaal. Wie sou nou kon raai dat swart en bruin so goed saam pas?

“Dit pas absoluut saam,” verseker Werner. “Die belangrike ding is dat die items as ’n geheel moet saamwerk.”

Dis sy beurt om ’n uitrusting te kies. Hy kies ’n patroonbaa­djie en definieer my middel deur weer ’n belt om dit te knoop. “Jy het heelwat bonkige baadjies wat nogals pofferig is,” sê hy. “Jy het ’n mooi figuur; moet dit dus nie wegsteek nie. Baie vroue dink hulle moet groter klere dra om lyf weg te steek, maar dan lyk hulle groter as wat hulle eintlik is.”

Sy keuse van ’n roomkleuri­ge broek tel ’n deel van die baadjie se patroon op, terwyl my vlootblou skerppunts­koene die ander deel se kleur beklemtoon. Hy voeg neutrale bykomstigh­ede by, en voila! Nou weet ek hoe om die klere in my kas beter aan te wend en voel ek gereed vir daardie vertrek vol 15 mense.

WERNER het in Pretoria grootgewor­d en later aan die London Internatio­nal School of Fashion studeer. Hy het al as vyfjarige seuntjie die wonderwêre­ld van mode ontdek. Hy het een aand gekyk hoe sy ma, Marinda, ’n finansiële bestuurder, haar mooimaak om sy pa, Johan, ’n sakeman, na sy weermagdin­ee te vergesel.

“Sy het haar rok self gemaak. Dit was ’n smaraggroe­n rok met pofmoue, ’n lae rug en ’n groot strik agter – ’n regte 1990’s-rok. Haar skoene was met dieselfde materiaal oorgetrek. “Met haar vlamrooi hare en in die groen kleur het sy so mooi gelyk, ek het myself aan haar verkyk.”

Sy vriendskap met die voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam het in gr. 10 in die Hoërskool Waterkloof se kunsklas begin. Hulle was gedurig in die moeilikhei­d omdat hulle nie hul werk doen nie. “Ons het Mej. Suid-Afrika-rokke geteken.”

Toe sy eindelik aan dié kompetisie deelneem, het Werner haar bygestaan. Hy het homself sedertdien gevestig as dié adviseur om aan jou kant te hê as jy jou oog op ’n skoonheids­titel het. Benewens Melinda het hy as afrigter en stilis – maar ook as vertroueli­ng en vriend – nog vier vroue die Mej. Suid-Afrika-kroon help wen: Demi-Leigh in 2017, Rolene in 2014, Liesl Laurie in 2015 en Ntandoyenk­osi Kunene in 2016.

Hy is deesdae heeltyds by die Mej. Suid-Afrika-kompetisie betrokke en help elke jaar al die finaliste met hul voorbereid­ing. Hy staan Tamaryn Green nou by, wat in Mei vanjaar as Mej. Suid-Afrika gekroon is en Suid-Afrika later vanjaar in die Mej. Heelal-kompetisie sal verteenwoo­rdig, asook vir Thulisa Keyi, wat in Mei as Mej. Wêreld Suid-Afrika aangewys is en later vanjaar aan dié kompetisie deelneem.

Pasop, wêreld: Nog ’n Mej. Heelal of Mej. Wêreld is dalk uit die suidpunt van Afrika op pad.

En met Werner aan haar sy sal sy ewe mooi lyk in ontwerpers­klere as in doodgewone items uit haar eie kas.

Die Kroonprins met Werner Wessels word elke Donderdag om 18:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsend­ings op Saterdae om 17:00.

 ??  ?? HOOFFOTO: Die HG-joernalis Marisa Fockema kry raad by die TV-aanbieder en stilis Werner Wessels oor hoe sy haar uitrusting­s die beste kan dra.
HOOFFOTO: Die HG-joernalis Marisa Fockema kry raad by die TV-aanbieder en stilis Werner Wessels oor hoe sy haar uitrusting­s die beste kan dra.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? Die resultaat nadat Werner Marisa gehelp het om ’n swart uitrusting op te vrolik.
Die resultaat nadat Werner Marisa gehelp het om ’n swart uitrusting op te vrolik.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa