Gesin ry Europa plat in kampeerwa
Toe die Ferreiras moeg word vir die stadslewe, het hulle besluit om Europa ’n jaar plat te ry met ’n kampeerwa as woning
SELFS haar man het aanvanklik gedink sy is van lotjie getik. Die meeste van hul besittings verkoop en Europa ’ n hele jaar lank platry – dít met al vyf hul kinders in die beknopte ruimte van ’n kampeerwa? Maar toe die 39-jarige Erika Ferreira in Mei verlede jaar besluit sy is moeg vir hul gejaagde lewe in Pretoria, was daar g’n keer aan haar nie. Sorgelose reise deur die Europese platteland terwyl jy rustig die een ná die ander kultuurstad ontdek, wyn drink in die son . . . Sy was vasbeslote om die alledaagse lewe te verruil vir die opwinding van ’n onvoorspelbare swerwersbestaan. En hulle hét. Teen druktyd het die Ferreiras reeds talle Europese lande verken – met al vyf kinders in daardie einste kampeerwa.
Maar in ’n Facebookgesprek met ons uit Montenegro, in die suidooste van Europa, erken die avontuurlustige Erika: “Dis nie aldag maklik vir sewe mense om oor die weg te kom in ’n kampeerwa nie. Dit verg beplanning, ’n roetine, geduld en verdraagsaamheid . . .”
Soos die Afrikaanse uitdrukking sê: Die langpad is hul woning. En basta met die gerief van ’n groot, voorstedelike huis.
AS DIE reisgogga jou eers byt, laat hy jou nie sommer los nie. Erika was skaars 21 jaar oud toe sy haar tasse gepak en die wêreld gaan ontdek het terwyl sy op passasierskepe werk. Daarna het die lewe sy gang gegaan en sy en haar gesin het hulle in Pretoria gevestig.
Sowat ’n jaar gelede het die gejaagde lewe Erika begin onderkry. Soggens het sy tuisonderig gegee aan haar en haar man, Lino (43), se kroos – Christiano (11), Alexa (9), Djorja (7) en die tweeling, Miguel en Gisele (4). Smiddae moes sy die kinders aanry na hul buitemuurse
aktiwiteite soos dans en tennis. Boonop was Lino, wat ’n onderneming besit wat landwyd spysenierstoerusting verskaf, se rooster net so vol. Dis toe dat Erika besluit: tot hier toe en nie verder nie.
Sy het haar huiswerk oor ’n sigeunerbestaan eers deeglik gedoen voor sy vir Lino gesê het sy wil ernstig met hom praat. “Hy het eers gedink ek is mal en dit sou onbekostigbaar wees,” sê Erika. “Maar ek het hom gewys ons lewensonkoste sou min of meer dieselfde wees. Toe eers het hy ingestem.”
Om die reisplanne te help finansier, het hulle die meeste van hul besittings verkoop. Hulle besit wel nog ’n eiendom in Pretoria. “Ons moet darem ’n dak oor ons kop hê wanneer ons teen die einde van die jaar terugkeer,” verduidelik Erika.
Dit was die groot aantal lande en verskillende kossoorte en kulture wat hulle op Europa laat besluit het, sê Erika. Hul- le het sedert die begin van hul avontuur begin vanjaar reeds deur lande soos Portugal, Spanje, Marokko, Gibraltar, Andorra, Frankryk, Kroasië, Bosnië en Herzegowina en Montenegro gereis. Hulle wil ook nog draaie gaan maak in Albanië, Roemenië, Griekeland en Hongarye.
Vir baie mense sal die blote gedagte om ’n jaar lank met so ’n groot gesin in ’n kampeerwa te bly nagmerries gee.
“Hmm, ja, dit kan soms nogal chaoties wees,” erken Erika. “Maar deur ’n roetine te volg is dit baie makliker.” Soggens maak elkeen hul eie bed op, waarna die gesin ontbyt eet. Daarna word beurte gemaak om die skottelgoed te was. Hoewel hulle soms uiteet, maak Erika die meeste van die tyd self kos.
Wanneer hulle in ’n dorp of stad is, was hulle hul klere by ’n plaaslike wassery.
Een van die grootste uitdagings is om elke tweede dag ’n plek te kry waar die toilet skoongemaak kan word.
“Natuurlik baklei die kinders soms, net soos by die huis. En ja, soms sit ek en my man vas as hy nie na my wil luister as ek sê ons moet links draai en hy wil regs draai nie,” spot sy. “Omdat daar so min ruimte in die bussie is en almal binne twee meter van mekaar sit, moet jy maar baie vinnig daaroor kom as jy wil baklei. Maar omdat ons elke dag op besigtigingsuitstappies gaan, is ons darem nie permanent in die wa vasgekeer nie.”
Verder laat hulle hulself nie deur ’n te vaste roetine inperk nie. “Ons hou van die vryheid om te doen wat ons wil. As ons moeg is vir ’n plek, klim ons in die wa en ry na ’n volgende plek, of as ons van ’n plek hou, bly ons langer.”
Die kinders kry steeds tuisonderig by hul ma en pa, wat fokus op lees- en skryf- werk en wiskunde. Die kinders moet ook elke dag in hul joernale skryf.
“Hulle doen baie lewenservaring op. Verlede week was ons in Bosnië en my kinders het hul vingers in die koeëlgate in die mure van geboue gedruk. Terug by die kampeerwa het ons hulle van die oorlogsgeskiedenis tussen Bosnië, Kroasië en Sirië geleer. Dit gee hulle ’n baie breër opvoeding as om net agter ’n boek by ’n lessenaar te sit en lees.”
Die hoogtepunt van hul reise is die mense wat hulle langs die pad ontmoet, vertel sy. Daar was onder meer ’n keer in Switserland toe Erika hoor hoe ’n vrou in Afrikaans met haar ma gesels.
“Ek het dadelik gaan kennismaak en die hele middag saamgekuier.”
Een van die enigste minder lekker ervarings wat hulle tot dusver gehad het, was toe daar in Italië in hul wa ingebreek en van hul besittings gesteel is.
NATUURLIK is daar verlange na hul familie en vriende in die verre Suid-Afrika, maar danksy moderne kommunikasi e tegnologie soos WhatsApp en Facebook behou hulle kontak en ruil foto’s met mekaar uit.
Lino kom darem elke tweede maand vir twee weke terug Pretoria toe om aan sy onderneming aandag te gee. “O ja, en ek mis dit om koek te bak soos wat ek gereeld by die huis gedoen het,” voeg sy by. “Die kampeerwa het nie ’n oond nie!”
Dit is ’n ongelooflike ervaring, som Erika hul leefwyse-vir-’n-jaar op. “Ons is ten minste elke dag bymekaar en pak saam enige uitdagings aan wat na ons kant toe kom.”
En watter vreemde paaie wil hulle nog verken?
Eendag gaan daar weer iewers ’n volgepropte kampeerwa op die pad gesien word, verklap sy. Soos ’n gewilde countryliedjie lui: ...