Huisgenoot

PA LEER UIT SY FOUTE

-

Dikwels verskyn briewe in jou rubriek oor mense wat wil skei, maar wat daaroor twyfel. Ek en my vrou was ook jare gelede op so ’n slegte plek in ons huwelik, en ek glo ek kan raad bied.

Ons is vandag ná 34 jaar steeds saam nadat ek haar eens op ’n tyd geweldig seergemaak het, maar toe op ’n dag besluit het om daarvan af te sien. Die rede? My dogter het reguit met my gepraat oor die konflik hieroor in ons huis en veral oor die manier waarop ek met hul ma en met hulle as kinders praat. Dit het my diep getref dat my kind die tekens van sulke ongelukkig­heid in die huis waarneem en sy haar pa oor sy gedrag aanspreek. Dis al wat ek nodig gehad het. Ek moes myself ondersoek en besef die fout is by my en nie by my vrou en kinders nie.

Mans wat oor hul huishoudin­g kla, besef nie watter voorreg dit is om ’n gesin en kleinkinde­rs te hê nie. Ek geniet vandag my kinders en kleinkinde­rs se geselskap.

’n Pa moet sy trots in sy sak steek en sy gesin respekteer. Dan sal hulle hom baie liefde gee. Ek dink as ’n pa jaloers is en onseker voel of sy vrou vir hom lief is, sal hy al die skuld op haar pak. Hierdie situasie moet opgelos word. Albei moet die besluit neem om dit te laat werk.

As pa’s net besef wat ’n wonderlike lewe voorlê as hulle hul gesindheid aanpas en gewillig is om lief te hê, sal hulle oornag verander. ’n Ware man sal besluit om goed vir homself en sy gesin te wees.

AVZ, George

Dankie, AVZ, vir jou wysheid en voorbeeld. Dit moes destyds baie moed van jou dogter geverg het, maar daardeur het sy ’n gesin en jul toekoms gered.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa