Selfs die drywer kom soms met die stadige trein, ontdek ’n leser
EK skrik wakker en sien dis al sesuur die oggend. O gits, ek het verslaap!
Ek spat my net hier en daar ’n bietjie nat – daai wat ons mos ’n cowboy- splash noem. (Gelukkig was ons mos deesdae almal so in die Kaap oor die waterskaarste.) Terwyl ek hol vir ’n taxi, bid ek so stilletjies dat die trein Kaapstad toe maar vanoggend asseblief (weer) ’n paar minute laat moet wees, want ek durf hom nie verpas nie.
Op pad stasie toe in die taxi kom ek toe agter die omie langs my lyk erg moeg, so asof hy ’n harde nag se kuier agter die blad het. Ek steur my nie aan hom nie, want ek tel die sekondes. As ek kon uitklim en die taxi stoot, dan sou ek.
Maar die omie is toe nie te moeg om ’n geselsie met my te probeer aanknoop nie. Ek maak maar of ek luister, want ek raak ál paniekeriger oor die trein, en dit voel vir my of die taxibestuurder vanoggend die langste en stadigste roete moontlik gekies het. Op ’n kol vra die omie langs my: “Maar,
baby, hoeko’ lyk djy dan so gestres?” Ek sê toe vir hom: “Oom, ek het opleiding in Kaapstad vandag, en om betyds te wees, moet ek op trein so-en-so wees, en ek is laat.”
Hy kyk my toe aan en lag hom klaar. Ek het my net lelik vererg vir hom toe hy sê: “Hoe kan jy laat wees as jou trein so-enso se drywer langs jou sit?”
Ek moet erken ek was vir ’n paar oomblikke verward voor ek besef het maar dié omie, hý is die treindrywer! Praat van toeval.
Nou ja, ek was toe nie laat vir trein soen-so nie. En ook nie vir my opleiding in die Kaap nie. LAUREN JOHNSON, STRAND