So maak jy menopouse makliker
Menopouse hoef jou nie te laat sleg voel of lyk nie. Hier’s goeie raad om die uitdagings van dié tydperk die hoof te bied
WARM gloede, slapelose nagte, buierigheid, trane en gewig aansit – as jy in jou menopouse is, klink sommige van dié dinge maar alte bekend. Jy ervaar waarskynlik ook ander selfs onaangenamer simptome. Oor sommige daarvan praat jy heel moontlik nie graag nie, want jy skaam jou dood, soos die snorbaarde wat skielik begin groei, en dit terwyl die hare op jou kop ál meer uitval.
Moenie vrees nie; praktiese raad is beskikbaar wat ’n mens maklik kan toepas om jou te help om jou pad deur dié lewensfase te vind.
In die Britse gesondheidskrywer en TV-aanbieder Liz Earle se jongste boek, The Good Menopause Guide, ondersoek sy die menopousale simptome wat talle vroue in hul middeljare ervaar en kyk na hoe jy maklike stappe kan doen om verligting te kry. Hier is ’n verkorte en geredigeerde uittreksel uit haar boek.
HAARVERLIES – EN HARIGHEID
Jy sien ’n foto van jouself van 10 jaar gelede met ’n dik bos blink hare. Dit lyk glad nie soos die fyn, swak haartjies wat jy nou het nie, en daar is ook nog geen teken van jou haarlyn wat begin terugskuif hier by jou voorkop en slape nie.
Die hormoon estrogeen laat hare in hul groeifase gedy. Hoe langer dié fase duur, hoe langer kan die hare groei. Maar as jou estrogeen tydens dens menopouse minder raak, raak jou hare se groeifase korter en val dit uit voor dit lank kan word. Terwyl jou estrogeen verminder, veroorsaak menopouse weer ’ n toename in
androgene, die man- like hormone wat hare dunner laat word, soos by mans wat hare op hul kop verloor.
Intussen kan vroue se gesighare soos ligte of donker “donsies” begin lyk wat oor die onderste helfte van die gesig en nek verskyn. Dit kom voor in die vorm van harde haartjies wat oënskynlik oornag aan die ken of bolip verskyn.
WENKE
Kies ’n nuwe haarstyl. Talle vroue kom agter byderwetse kort hare gee hulle nuwe moed en hulle sien dan ook kans om nie meer hul hare te kleur nie; alles veel minder moeite. Die teenoorgestelde kan ook waar wees. ’n Mens kry min makliker maniere om die uiterlike tekens van veroudering weg te steek as om semipermanente kleur te laat insit of sagte aksentkleure tussen die grys ( my gunstelingmanier van oëverblindery).
Pluk die gesighare summier uit. Vermy daardie onaangename situasie waar jy tydens ’n sosiale geleentheid of op kantoor kleedkamer toe gaan en ’n aaklige swart haar aan jou bolip sien. Koop ’n goeie staanspieëltjie wat kan vergroot en lig op jou gesig kan gooi. Hou altyd ’n haartangetjie byderhand sodat jy op die daad van sulke haartjies kan ontslae raak. Meer langdurende oplossings is laser, waks, onthaarroom en elektrolise.
Drink vitamiene en aanvullings. Jou hare sal gedy op ’n dieet wat ryk is aan proteïen en vitamiene, plus ’n daaglikse dosis silika (’n chemiese verbinding wat beengesondheid kan help bevorder), biotien (’n B-vitamien wat die liggaam help om kos in energie te omskep) en seewier. Neem ook yster in, want dit gee ons energie en voorkom bloedarmoede en moegheid. En dit help haargoei aan.
Laat jou wimpers weliger lyk. Ongelukkig word dit ook dunner, maar jy kan ’n paar lae maskara aanwend om dit volume te gee. Moenie jels en serums ten duurste aanskaf wat wimpers sogenaamd “regenereer” nie; dit is peperduur en kan oogirritasie veroorsaak of selfs jou wimpers laat uitval. ’n Beter opsie is om jou wimpers te laat kleur om dié wat jy oorhet beter te laat uitstaan.
HOE SÊ?
Tydens menopouse moet jou gehoorverlies deur ’n oudioloog gemonitor word, veral omdat navorsing toon 40% van alle mense oor 50 jaar ondervind ’n mate van gehoorverlies en 70% teen die ouderdom van 70.
Estrogeen het ’n beskermende uitwerking op gehoor. Navorsers in Swede het bevind menopouse is ’n sneller vir relatief vinnige ouderdomsverwante gehoorverlies by gesonde vroue. Dit begin gewoonlik in die linkeroor, sê hulle.
WENKE
Beskerm jou gehoor soveel moontlik deur raserige plekke te vermy en oorskutte te dra wanneer jy in ’n vliegtuig is, gras sny of musiekkonserte bywoon.
Play It Down is ’n gratis iPhone- en iPad-app wat gebruikers in staat stel om hul gehoor- sowel as geraasvlakke daardeur te bepaal.
IETS VERGEET?
Ek is nie die enigste een wat voel ’n mens se selfvertroue kry nogal ’n knou as jy nie meer so lekker kan onthou nie.
Hoekom is vergeetagtigheid so ’n groot ding tydens menopouse?
Estrogeen reguleer die vlakke van die hormoon kortisol, wat op sy beurt breinchemikalieë beïnvloed. As estrogeen- vlakke daal, is die beheer wat dit oor kortisol het maar wisselvallig en dit veroorsaak probleme met jou korttermyngeheue.
Dis algemeen om nie meer so betrokke soos voorheen by dinge om jou te voel nie, en die vermoë om te konsentreer of aan ’n klomp dinge tegelyk aandag te gee neem af.
Jy wonder of jy lui geword het, of dit maar is soos die ouderdom lyk en of jy tekens van vroeë demensie het.
WENKE
Dit is gerusstellend om te weet dit is algemene simptome en dat talle stories vertel word van mense wat simpel goed aanvang, soos om die skottelwassertablette in die wasmasjien te sit, ’n bankkaart te probeer stop wat jy net die vorige dag gekanselleer het en te vergeet waar jy die motor 20 minute gelede parkeer het.
Hoewel ons weet dalende hormoonvlakke kan tot dié simptome bydra, is dit belangrik om te weet en onsself krediet te gee vir die feit dat ons dié reuse veranderings op ’n besige tyd van ons lewe hanteer: ’n veeleisende beroep, die versorging van ouers en moontlike betrokkenheid by gemeenskapsprojekte. Moenie te selfkrities wees nie.