Huisgenoot

MY STORIE

Vir Ma – ’n leser vertel van haar hartroeren­de herinnerin­gs aan die tyd voor en nadat sy haar ma moes groet

-

‘EK gaan nêrens,” sê ma. Die sigaret trek kromvinger­tjie. “Hulle sal my hier uitdra, voete eerste.” Die as mis die asbak net-net. “Oor my dooie liggaam,” sê sy en steek nog ’n sigaret aan. “Maar Moeder . . .” probeer ek weer.

Pa lyk verleë, verstel sy gehoorappa­raat, druk my hand saggies onder die tafel . . . die lewe se padkaarte opgefromme­lde lyne oor sy gesig.

Met die groetslag druk ek moeder twee keer styf teen my vas. Ek voel haar hartklop. ’n Oomblik lank klop ons harte in gelyke ritme. “Last touch,” sê moeder. Ons vingerpunt­e raak vlugtig deur die oop venster. Soos altyd wanneer ons afskeid neem. My hart is seer toe ons ry.

Ek bel die ander kinders. Ons onderhande­l, pleit, soebat, bekommer, begin weer voor. Dit help nie. Moeder het besluit. Ons ondersteun, maar bly hoop.

Douvoordag een Saterdagog­gend lui die foon. “Ek’s moeg, my kind,” sê ma.

“Is iets fout?” vra ek onrustig. “Nee, ek wil net huis toe gaan.” “Ek kom dadelik.”

Ek probeer met pa praat. Hy kan nie hoor nie. Toe bel ek die ander kinders.

Tannie Lettie in die woonstel oorkant moeder begin saggies huil toe ek haar vertel ons neem haar hospitaal toe.

Die oomblik toe ek die onderste trappie bereik, skree ’n hadida bokant my kop. Ek kyk op, uitasem.

Hulle dra moeder teen die trappies oorkant af. Voete eerste. Last touch.

Elke mens se vingerafdr­ukke is uniek. So is dit ook met rou.

Ek plant krismisros­e in die stil deel van die tuin. Verwonder my aan die ligpers blomme en die feit dat ek iets kon laat groei. Ek bak ma se resepteboe­k deur; ruik haar in anys, gemmer en kaneel.

Ek skryf ’n gedig. Vir Ma. ANIKI, PRETORIA

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa