Huisgenoot

GETROUD MET ’N ‘VEGTERTJIE’

-

Ek en my vrou is nou 25 maande getroud, maar ons baklei soveel dat ek nie weet of ons kinders moet kry nie. Ek het nie met stryerige ouers grootgewor­d nie en was ’n enigste kind.

Ek weet nie mooi wat in my vrou se verlede gebeur het om haar so ’n vegtertjie te maak nie, maar sy los geen rusie nie. Ons moet huis koop en sit vas oor alles.

Sy aanvaar net geen leiding van my nie en is nie oop vir bespreking nie. Dit frustreer my wanneer sy so onredelik is. Ek soek net vir ’n slag vrede.

Hennie op P

’n Lewe sonder konflik is net ’n droom, veral as ’n stryery klaar deel van jou of jou maat se kommunikas­iepatroon of persoonlik­heid is; daarom moet hul konflikhan­tering opbouend wees.

As enigste kind kan jy gou hierdeur oorweldig voel en dit anders ervaar as iemand soos jou vrou, vir wie dit dalk die asem in haar longe is.

Dit is ’n goeie plan in enige verhouding om ’n werkwyse te hê met ’n paar riglyne. Noem dit jou vredesplan. Jy en jou vrou moet saam oor hierdie punte ooreenkom soos dat alle ou koeie in die sloot gelaat moet word. In enige konflik kan mense gou verward raak as daar te veel kwessies is om te bespreek. Praat oor een ding op ’n slag.

Om die gif uit enige aantygings te haal moet jul woorde en lyftaal nie veroordele­nd of verdedigen­d wees nie. Maak opmerkings oor jou vrou se optrede en nie oor wie en wat sy is nie.

Tydens gesprekke kan lewensmaat­s maklik oorreageer. Kalmeer jou gemoed deur jou af te vra of wat gebeur het, nog oor ’n week belangrik sal wees. Jy kan nie stres en konflik voorkom deur bloot elke dag ’n glimlag aan te plak nie, maar eerlik die uitdagings in jul verhouding aan te durf.

Eers wanneer jul verhouding verbeter het en groter volwassenh­eid by jou vrou te bespeur is, kan julle daaraan dink om as ouers ’n nuwe fase in jul huwelik binne te gaan. Maar hou by hierdie reëls, ook wanneer die kleingoed daar is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa