Kleinboere is met hande in die hare
Chriszanne Janse van Vuuren
Kleinboere van verskeie dorpe in die Dr Beyers Naudé munisipale area sit met hul hande in die hare oor die munisipaliteit se afwesigheid by die reeks vergaderings wat onlangs deur die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming in Jansenville, Graaff-Reinet en Willowmore gehou is.
Die doel van hierdie vergaderings was om huurooreenkomste vir die gebruik van meentgrond met belanghebbendes te bespreek nadat dit met die besoek van hierdie departement se parlementêre portefeuljekomitee in Oktober verlede jaar as knelpunt geïdentifiseer is.
Tydens die laaste van hierdie vergaderings, wat in Willowmore plaasgevind het, het kleinboere van Willowmore, Steytlerville en Rietbron hul frustrasies rakende huurooreenkomste vir die gebruik van meentgrond uitgespreek. Na bewering sukkel sommige kleinboere al vir jare om geldige huurooreenkomste te bekom terwyl ander wel geldige huurooreenkomste in plek het, maar die munisipaliteit steeds versuim om aan die terme daarvan te voldoen. Die kleinboere is ook van mening dat die munisipaliteit nie eerlik met hulle is oor die huidige stand van meentgrond in die munisipale area nie. Hulle vermoed dat groot gedeeltes van die meentgrond reeds verkoop is, of uitverhuur word aan kommersiële boere sonder hul medewete.
Daarom het bestuurslede van die Willowmore-kleinboere al die munisipaliteit se drumpel deurgetrap om die meentgrond se kaart te bekom, maar die munisipaliteit weier glo om dit vir hulle te gee.
Die verteenwoordigers van die departement het hul misnoeë oor die munisipaliteit se versuim om die vergaderings by te woon uitgespreek en gesê dat die munisipaliteit se afwesigheid boekdele spreek. Volgens hulle is dit die enigste munisipaliteit waar daar soveel probleme met huurooreenkomste ondervind word. Dit belemmer die departement se vordering en verhoed hulle om hul mandaat na te kom omdat hulle verskeie programme en fondse vir die ondersteuning van kleinboere beskikbaar het, maar geen ondersteuning kan bied in die afwesigheid van geldige huurooreenkomste nie.
Die departement het die kleinboere verseker dat die konsultasies rakende huurooreenkomste steeds onderweg is en dat hulle alles in hul vermoë sal doen om die kleinboere te ondersteun.
Daar is ook ooreengekom dat die Support Centre for Land Change (SCLC) die kleinboere sal help om ‘n vergadering met die munisipaliteit te probeer reël wat ook deur die departement bygewoon sal word.
Die koördineerder van die munisipaliteit se Plaaslike Ekonomiese Ontwikkelingskantoor, Ntombizanele Koeberg, het aanvanklik aangedui dat die vergadering nie nodig is nie omdat alle kleinboere wel geldige huurooreenkomste het. Volgens haar is dit nog net die herwinningsprojek in Willowmore wat nie ‘n geldige huurooreenkoms het nie.
Die kleinboere het die huurooreenkomste aangevra, maar wag steeds daarvoor.
Volgens Andrew Diedericks, voorsitter van die Baviaans Land and Agrarian Reform Forum, het Koeberg onlangs aangedui dat die kleinboere binnekort na ‘n vergadering genooi sal word om die huurooreenkomste te bespreek.
Die kleinboere is gewillig om hierdie vergadering by te woon, maar is dit eens dat hulle beslis verdere stappe sal neem indien die munisipaliteit sonder die meentgrond se kaart en die huurooreenkomste by die vergadering opdaag.
Graaff-Reinet Advertiser het ‘n navraag rakende die aangeleentheid ingedien, maar teen druktyd het die munisipaliteit nog nie daarop gereageer nie.
Die verteenwoordigers van die departement het gesê dat die munisipaliteit se afwesigheid boekdele spreek.