DIE HEEL EERSTE TOETSE
Wanneer dit kom by gehoorsiftingstoetse is die algemene gevoel onder kenners dat dit nooit te vroeg is vir ’n toets nie, maar dikwels te laat.
Gehoorsiftingstoetse kort ná geboorte in die hospitaal is nie verpligtend nie, maar dit word aanbeveel omdat dit ’n betroubare manier is om moontlike gehoorverlies vroeg al raak te sien. Die diens word in alle privaat hospitale aangebied, maar jy moet dit versoek en ’n toestemmingsbrief onderteken.
Die toets, bekend as oto-akoestiese emissies (OAE), kos sowat R270 en is pynloos.
Dit werk so: ’n Klein rubberproppie word in die buitenste oorkanaal geplaas. Die oortjie word dan met sekere klanke gestimuleer. As ’n baba se gehoor normaal is, sal die buitenste haarselle van sy koglea (of binneoor) sy eie klanke (of emissies) produseer. Die binneoor eggo bloot die klanke terug, wat dan deur ’n sensitiewe mikrofoon in die oorkanaal gemeet word. Die klein toestel wat oudioloë vir OAE’s gebruik sal ná die kort toets een van twee dinge sê: slaag ( pass) of verwys ( refer). Slaag beteken jou kind se gehoor is in hierdie stadium normaal terwyl verdere gehoortoetse ná ’n “verwys” nodig is. Claudine raai ouers sterk aan om die oudioloog te vra vir die uitslag van die toets.
As jou baba in die neonatale eenheid was of enige ander risiko-faktore soos geelsug, ’n laer Apgar-telling of enige asemhalingsprobleme tydens geboorte gehad het, word ’n ouditiewe breinstamrespons- (OBR-) toets ook aanbeveel. Dit behels oorfone op jou kind se kop en elektrodes op sy voorkop. Die masjien wat die oudioloog gebruik sal ook in hierdie geval ’n slaag- of verwys-uitslag uitskop.
As toets 1 onsuksesvol was
Die verwys-resultaat met die eerste siftingstoets beteken nie noodwendig dat jou baba doof is nie, maar dat verdere toetse gedoen moet word. Babas het soms nog vernix (die wit, taaierige stof waarmee pasgeborenes bedek is) in hul ore wat kan veroorsaak dat hulle ’n verwys-resultaat kry. “Dit bly egter baie belangrik dat jy jou kind terugneem oudioloog toe vir die opvolg-siftingstoets,” sê Claudine. Dit word gewoonlik teen ses weke gedoen.
DIT MOET JY WEET
Ouers moet ’n toestemmingsbrief teken voor ’n gehoorsiftingstoets gedoen kan word. Jy behoort die uitslag en verslag van die siftingstoets onmiddellik te kry. As die uitslag ’n “verwys” is, kan julle daar en dan ’n afspraak vir ’n opvolgtoets te maak. ’n Tweede siftingstoets is baie belangrik. ’n Verwysing op ’n tweede siftingstoets moet lei tot ’n verwysing na diagnostiese oudiologie, waar fyner toetse gedoen word om moontlike gehoorgestremdheid en die graad daarvan te diagnoseer. Daar behoort nie meer as twee siftingstoetse gedoen te word voor ’n verwysing na diagnostiese oudiologie nie. Behandeling behels onder meer die voorskryf van gehoorapparate of kogleêre inplantings. ’n Oefenprogram sal ook voorgeskryf word. As ’n oudioloog besorg is oor ’n oorinfeksie behoort sy julle te verwys na ’n oor-neus-keelspesialis. Kry hier hulp, ouerleiding en oefenprogramme: Hi Hopes by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg (011-717-3350, www. hihopes.co.za), Carel du Toit-sentrum in Kaapstad (021-938- 5303, careldutoit.co.za)
Navorsing wys dat as ’n baba se gehoorverlies voor drie maande raakgesien en daar teen ses maande met ingryping begin word, die baba kan leer om dieselfde kommunikasievaardighede as kinders met ’n normale gehoor te ontwikkel.