Baba & Kleuter

E-pos uit buiteland

Chantell Herbst (29), haar man, Danie (29), en hul dogter, Sumien (5 maande), woon in Doebai. Chantell vertel hoe dit voel om ’n tuisblymam­ma in dié woestynsta­d te wees.

- DEUR CHANTELL HERBST

SUMIEN IS NOU AL OP ’N WAGLYS VIR ’N KLEUTERSKO­OL.

Ek het agt jaar gelede my sak gepak en met ’n driejaar-kontrak by die lugdiens Emirates as lugwaardin ingeval. Min het ek geweet ek sou my Boereman in Doebai ontmoet, ophou vlieg en ’n mamma in die buiteland word! Ons woon tans in Jumeirah Village Circle, ’n deel van Doebai.

Daar is soveel dinge wat deur jou kop maal as jy nie in Suid-Afrika is nie en ’n gesin beplan: Sal jou kind haar vaderland ooit ken? Sal haar oumas en oupas haar teen die bult kan uitstoot wanneer sy leer fietsry of haar kan ondersteun by haar eerste balletkons­ert? Sal sy Afrikaans nie net kan praat nie, maar ook kan lees en skryf? Te midde van al hierdie vrae moet jy as ouer die beste besluit vir jou kind maak.

Om net vir die eerste keer ’n mamma te wees, is op sy eie reeds ’n berg wat geklim moet word. Van al die bekommerni­sse wat ’n mens hier in die nag laat wakker lê, is veiligheid darem nie een nie. Sumien het nog baie jare wat voorlê waarin sy kan buite speel, fietsry skool toe en op die strand kan speel. Dit stel my gerus dat my kind nie bang gaan grootword nie.

Die verlange huis toe word nooit minder nie, maar dit maak darem ’n mens se lewe makliker om die ondersteun­ing te hê van vriende, wat soos jou familie word. Dit het ons ook rustiger daaroor gemaak om Sumien in Doebai te verwelkom.

Sy het ’n Suid-Afrikaanse paspoort, want buitelande­rs is nie geregtig op ’n paspoort van die Verenigde Arabiese Emirate nie. Sy is dus verseker nog eg Afrikaans. Die proses om ’n paspoort en visa vir haar hier te kry is nie altyd so maklik nie en kan tyd kos, veral as jy haastig is om huis toe te gaan sodat almal die nuwe lid van die gesin kan ontmoet!

’n Groot uitdaging in Doebai is natuurlik die somermaand­e, want dit word te warm vir buite speel. Dit kan jou soms geïsoleerd laat voel, maar die aantal binnemuurs­e aktiwiteit­e vir kinders tot ons beskikking maak dit maklik om hulle uit die son en woestynhit­te te vermaak. Hier is vreeslik baie winkelsent­rums en dis tog te lekker om te gaan rondloop wanneer Sumien opgewonde raak en net met almal wil gesels.

Winter in Doebai is soos ’n perfekte somerdag in Suid-Afrika. Almal kom dan naweke bymekaar. Net 20 minute buite die stad is daar ’n heerlike kampeergeb­ied waar ’n mens ’n groot vuur kan maak en rustig saam met vriende kan kuier. Afrikaanse kerke hou gereeld kampeeraan­de waar almal saamsing en kinders hulle lam speel op die duine. Die Suid-Afrikaanse gemeenskap is ongeloofli­k groot en ons vier elke jaar Erfenisdag (braaidag) en hou sokkiejoll­e en potjiekos-kompetisie­s. Soos hulle sê, jy kan die mens uit Suid-Afrika haal, maar nie Suid-Afrika uit die mens nie!

Skoolgeld hier is baie duur en daar is ’n groot verskeiden­heid leerplanne waaruit ’n mens kan kies. Sumien is nou eers vyf maande en sy moet al op ’n waglys vir ’n kleutersko­ol kom – dit is hoe vol die skole is! Doebai het talle verskillen­de nasionalit­eite en kulture en ek dink dis fantasties dat sy van ’n vroeë ouderdom af daaraan blootgeste­l gaan word.

Baie gesinne het ’n oppasser wat uithelp wanneer al twee ouers werk. Dit is bekostigba­ar, maar kan duur word as jy vir hulle ’n visa, vliegtuigk­aartjie en verblyf moet voorsien. Soos party ander ouers het ons besluit dat ek vir die duur van Sumien se eerste jaar ’n tuisblyma gaan wees. Ek oorweeg dit om later weer te werk, maar moet bely dat dit vir my makliker sou wees as ek Sumien dan in die sorg kan laat van iemand wat my taal praat.

Ons beplan nie om vir altyd hier te woon nie, maar op die oomblik is dit ons huis en Doebai is net nog ’n hoofstuk in ons lewe.

 ??  ?? Danie, Chantell en Sumien Herbst.
Danie, Chantell en Sumien Herbst.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa