Slim gebore
Met geboorte het jou baba se brein al byna al die senuselle wat dit ooit sal hê – biljoene. Wat egter nog grotendeels ontbreek, is die verbindings of “paadjies” tussen hierdie breinselle. Jou baba het hierdie paadjies nodig om al die inligting wat hy van sy sintuie ontvang, te interpreteer en daarop te reageer.
Selfs in baba se eerste drie maande kan jy al baie doen om daardie breintjie flink aan die dink te kry.
SLAAP GEE BREINONTWIKKELING ’N GROOT HUPSTOOT.
Net die laer dele van die brein (die breinstam en rugmurg) is met geboorte al goed ontwikkel. Dis die dele wat verantwoordelik is vir jou baba se basiese lewensfunksies en primitiewe reflekse soos asemhaling, hartklop en sluk.
Jou pasgeborene kan nog nie sy bewegings willekeurig beheer of vreeslik dink nie, maar hy leer elke dag. Mettertyd sal die inligting wat van sy sintuie kom, stap vir stap meer verbindings tussen sy breinselle help vorm.
In die proses ontwikkel die hoër dele van sy brein wat met geboorte nog onvolwasse is, verder sodat hy ál beter op sy omgewing kan reageer.
Vroeë mylpale
Al is sy breintjie nog onderontwikkel, is daar heelwat dinge wat jou pasgeborene al kan doen: Hy kan binne ’n paar uur ná geboorte sy ma se gesig herken asook die klank van haar stem, en binne ’n paar dae sy ouers se reuke onderskei. Hy verkies gesigte bo ander voorwerpe en kan onderskei tussen verskillende gesigsuitdrukkings soos hartseer of gelukkig.
Teen ’n week oud kan jou baba al vir ’n rukkie fokus op een ding uit al die verskillende klanke en beelde in sy direkte omgewing. Op sowat ’n maand sal hy gefassineer na voorwerpe naby hom staar. Hy kan ook ’n voorwerp wat weggeneem en ná ’n paar sekondes teruggebring word, onthou. Ná twee maande sal hy sy visie goed genoeg kan beheer om met belangstelling na ’n voorwerp te kyk wat in ’n patroon voor hom beweeg.
Teen drie maande kan jou pienkvoet begin verstaan dat daar ’n verband is tussen sy gedrag en ’n spesifieke reaksie. Hy sal voorwerpe volg wat deur ’n vertrek beweeg, uitreik na voorwerpe naby hom en voorwerpe in sy mond probeer sit om dit te verken. Verder luister hy met aandag na geluide en word stil as hy beter wil hoor. Sy geheue is goed genoeg dat hy gereelde gebeure soos ’n voeding of badtyd verwag, en hy sal bekende musiek herken.
Teen drie maande kan ’n baba se brein tussen honderde verskillende spraakklanke onderskei. Hy begin ook tussen ál meer gesinslede se stemme en gesigte onderskei.
Breinbou-omgewing
Vir baie ouers is breinontwikkeling sinoniem met stimulasie, maar jou baba het nie honderde speelgoed in sy eerste lewensmaande nodig om sy breintjie te bou nie. Tot drie maande oud behoort ’n baba trouens teen oorstimulasie beskerm te word, waarsku Welma.
Eers daarna het hy ’n omgewing nodig waar stimulasie en verkenning bevorder word.
Dis omdat die nuwe omgewing buite die baarmoeder klaar vir jou baba propvol harde klanke, reuke en visuele stimulasie is, sê Welma.
“Vir die vel is alles ook nuut: Veersagte aanraking kan soos pyn voel en temperatuur en drukking speel ook ’n groot rol in hoe ’n baba sy omgewing ontdek.
“Hierdie sensoriese stimulasie, soos mamma en pappa se stemme, en kleure en vorms in die onmiddellike omgewing, word nou deur die senustelsel na die brein vervoer. Daar word dit verwerk sodat jou baba op die spesifieke prikkel reageer. In dié tyd word die senuweebane gevorm en vasgelê en die brein word geprogrammeer.”
DIE BUITEWÊRELD BIED VANSELF KLAAR MEER AS GENOEG SENSORIESE STIMULASIE VIR ’N PASGEBORE BABA – SOMS SELFS TE VEEL.