Sakpas-vertonings wag by Blue Moon 2020
Blue Moon het die afgelope naweek behoorlik weer lewe gekry met die eerste vertoning van die Blue Moon 2020-konsertreeks.
Jay en Lianie het Vrydagaand die verhoog betree met Nicholis Louw as die gaskunstenaar vir die aand. Robbie Wessels was die hoofvertoning van Saterdagaand en Nádine het die gehoor betower met haar fluweelstem.
Murray Lubbe, een van die organi-seerders van Blue Moon 2020, het gesê dat die eerste naweek van vermaak goed verloop het.
"Die gehoor was dalk nog 'n bietjie klein, maar die energie was hoog en ons is almal gelukkig met die eerste naweek. Ons sien uit na die volgende paar vertonings en om Laevelders by ons te hê," vertel Lubbe.
Die volgende konserte in die reeks is op 4 en 5 Desember met onderskeidelik Karlien van Jaarsveld en Bok van Blerk.
"Ons het ook 'n paar lesse geleer met die verloop van die eerste naweek wat ons dadelik aanpas vir die volgende rondte," vertel Johan Ferreira, mede- aanbieder van die vertonings.
"Twee groot veranderinge is; na 'n jaar van swaar trek besef ons dat gesinne nie die konsert kan bywoon as kinders volprys moet betaal nie, so ons het die besluit gemaak dat voor- en laerskoolkinders gratis kan inkom.
“Tweedens kom ons agter dat Laevelders graag 'n fisiese kaartjie wil koop eerder as om aanlyn te sukkel, dus sal kaartjies vir al die vertonings beskikbaar wees by www.itickets.co.za, Rooikat Liquors, Suikerbossie Teetuin en Radio Laeveld.
Hulle sal ook voor elke vertoning by die hek beskikbaar wees, hoewel ons mense sterk aanraai om eerder vooraf te koop om verseker te wees van plek,” sê Ferreira.