Landbouweekblad

SÓ SÊ ’N RISSIEBOER

-

Marthinus en Hannelie van Staden van Sanctuary Farm Produce in Kameeldrif­tOos skrik nie vir ’n bietjie hitte nie. Dié egpaar boer op klein skaal met rissies en maak ook ’n rits souse, blatjang en konfyt daarvan.

Hoe het jul ondernemin­g ontstaan?

Rissies is my vrou, Hannelie, se stokperdji­e. Sy versamel rissiesade en

-plante van oral oor en ruil dit met ander rissielief­hebbers uit. Ons het tans saad van 93 verskillen­de kultivars, en plante van meer as 40 soorte. Daarby het ons blatjang, konfyt, souse en piekels begin maak wat ons op markte verkoop. Ons het ook gereelde klante wat regstreeks by ons koop.

Waarom is julle so begeesterd oor rissies?

As mense na rissies kyk, sien hulle net “brand”! Maar dis nie al wat rissies is nie. Dit bevat baie vitamien C en skei endorfiene af, soortgelyk aan dit wat lag en oefen aan die liggaam doen. Rissies is eintlik baie gesond en bied ’n klomp voordele.

Vertel meer oor die kultivars.

Ons het die warmste en tweede warmste rissies ter wêreld, naamlik Carolina Reaper en Trinidad Scorpion, in ons kweekhuis. Ons maak ’n sous van Carolina Reaper. Dan produseer ons ook matiger kultivars, soos Cayenne en Serrano. Dit is die rissies wat ek die meeste gebruik. Dit het ’n lekker brand, maar nie ’n doodbrand nie. Ek het ook jalapeno’s, waarvan ek ’n Texaanse sous maak wat heerlik saam met steak is. Ons het ook pikantriss­ies, waarvan ek onder meer ’n brandsous maak.

Plant julle in tonnels?

Ons het ’n tonnel van 105 m2 en ’n kweekhuis wat ek self ontwerp het. Ons maak plantjies van saad af in die kweekhuis en plant dit in Augustus in die tonnel of buite, onder doringbome, uit. Teen Oktober kan ons begin oes, en oes regdeur tot April en Mei. Baie mense dink rissieplan­te is eenjarige gewasse, maar as jy dit mooi oppas, is dit meerjarige plante. Van my plante is al drie jaar oud.

Verkoop vars rissies goed in Suid-Afrika?

Ja, maar dit is duur op markte. Jy betaal baie per kilogram vir byvoorbeel­d die Ghost Pepper of Carolina Reaper.

Hoe ontwikkel julle die resepte?

Ons lees baie oor rissies en eksperimen­teer graag in die kombuis. Ons het al agtergekom as ek en my vrou van ’n produk hou, sal die meeste ander mense ook daarvan hou. Baie van ons produkte bevat ook knoffel, maar net ’n paar bevat suiker.

Ek neem aan jy deins nie terug vir ’n bietjie hitte nie?

Ek glo nie daaraan dat rissies jou tong moet doodmaak of jou lippe brand nie. Al ons produkte het smáák, nie net brand nie.

Wat is jou gunsteling-rissieprod­uk?

Ek kan nie net een uitsonder nie, want dit hang af van wat jy eet. Die rissieblat­jang en chilinaise (’n rissie-mayonnaise) is veral lekker veelsydig as doopsous of oor aartappels­kyfies.

 ?? FOTO: VERSKAF ?? Marthinus en Hannelie van Staden by een van hul rissieplan­te.
FOTO: VERSKAF Marthinus en Hannelie van Staden by een van hul rissieplan­te.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa