Van trauma na triomf met boek ‘Die Ander Kind’
Almal het ’n verlede. Vir sommige was dit relatief maklik, maar ander moes deur diep waters spartel om te oorleef. Een van daardie mense is Hannes van Rensburg, ’n man wat nie sy pyn probeer begrawe het nie, maar dit eerder in woorde vasgevang het om hoop aan ander te bring.
Reeds op sewejarige ouderdom het
Hannes besef dat hy anders as die ander kinders was. Anders, in sy geval, het beteken gay – iets wat hom blootgestel het aan eensame jare, spot, verwerping deur familie onder die vaandel van godsdiens, verkragting, dwelms, die dood en selfs ’n kankerdiagnose.
‘Die Ander Kind’ is ’n boek van hoop. Jy is nie alleen nie,” vertel Hannes, wat sy eie verhaal op papier gesit het. Die verhaal is reeds in 2011 verwerk in ’n verhoogproduksie wat in die Pierneefteater opgevoer is. Tien jaar later, ná talle versoeke, het die boek uiteindelik die lig gesien.
Daardie dekade was vir Hannes nie maklik nie. Beide sy ouers is in sy arms oorlede, en kort ná die publikasie van die boek in 2021 het hy twee beroertes binne twee weke ophad. Sy linkerkant was verlam, maar volgens hom het hy met die genade van God volkome herstel.
Een van die moeilikste besluite was om traumatiese ervarings wat hy aanvanklik uitgelaat het, tog in die boek te deel. “Die grootste seer was my laerskoolonderwyser, ’n huisvriend van my ouers, wat my verkrag het ‘sodat ek kan voel hoe dit is om ’n moffie te wees’. Ek het dit ingesluit sodat ander mense ook hoop kan vind,” verduidelik hy.
Hannes het onlangs ’n kursus in draaiboekskryf voltooi, en beplan nou om ‘Die Ander Kind’ ook as rolprent uit te bring. Hy is volledig betrokke by die draaiboek en dien tans as tesourier van die Writers Guild of South Africa (2025–2026). “Ek glo die film moet dieselfde hoop bring as die boek. As alles volgens plan verloop, begin ons einde 2026 verfilm en dit sal my grootste wens wees wat waar word,” sê hy.
Sy boek het reeds erkenning ontvang deur ‘n tweede plek te behaal in die gewilde lewensverhalekategorie van die maandelikse Skryfnet-kompetisie op Maroela Media. “Ek was in trane. Ek was op pad Potchefstroom toe om my graad te ontvang toe my man, Dean, my bel en gelukwens. Ek het net langs die pad gestop en dankbaarheid uit my hart uitgestraal. Ek het dit glad nie verwag nie,” vertel hy.
Maar Hannes se skryfwerk is nog lank nie klaar nie. Hy werk reeds aan die opvolgboek, ‘Die Ander Man’, waarin sy verhaal voortgesit sal word.